Provinsies soos Limpopo en KwaZulu-Natal word boonop deur meer ekstreme reënval gekenmerk wat skade veroorsaak. Tog gaan grondvog verminder omdat verdamping en transpirasie weens die hoër temperature, toeneem.
Klimaatsverandering is nie ‘n nuwe verskynsel nie
Annette het verduidelik dat die wêreld se klimaat nog altyd verander het. Tog word ‘n skerp styging in temperatuur wel sedert die nywerheidsrewolusie waargeneem en is daar dus ‘n menslike faktor betrokke.
Verlede jaar is die warmste temperature nóg wêreldwyd aangeteken. Al 366 dae was 1,25°C warmer en 75% van die dae was 1,5°C warmer. Dit is heeltemal teenstrydig met die Parys-konvensie wat ten doel het om klimaatsverandering te stuit en die styging in temperatuur op minder as 1,5°C te hou.
In Afrika toon Botswana die vinnigste opwaartse neiging wat ‘n styging in temperatuur betref en dit is ook in hierdie buurland waar, voorspel Annette, hittegolwe op die kontinent die ergste sal wees.
“As ons ‘n wêreld betree wat 5°C warmer sal wees, sal die hele Suid-Afrika langdurige hittegolwe ervaar,” sê sy. Elke dag sal ‘n groot brandgevaar inhou, tensy dit reën.
Hoewel die meeste mense klimaatsverandering met ‘n droër klimaat vereenselwig, sê Annette dat klimaatmodelle aandui dat ons eintlik in ‘n natter wêreld leef.
Produsente moet waterbewarings-
tegnieke aanpas
Annette het weerdata oor Lichtenburg voorgehou en daarop gewys dat daar beslis ‘n opwaartse neiging in temperatuur hier is, met ‘n vinnige styging sedert 2015.

Reënval in die Lichtenburg-omgewing is wisselvallig en toon ‘n klein afwaartse neiging. Februarie 2025 was nie die natste Februarie hier op rekord hier nie, maar daar het baie reën in ‘n baie kort tyd geval.

Data toon dat die vroeë en middelste deel van die reënseisoen in Lichtenburg geleidelik droër word, met ‘n afwaartse neiging in grondvog sedert 1996. Hoewel dit nie ‘n skerp afwaartse neiging is nie, beteken dit wel ‘n groter droogterisiko, verminderde mielieopbrengste en ‘n groter afhanklikheid van besproeiing.

Produsente moet dus hul waterbewaringstegnieke asook plantdatums aanpas en droogtebestande kultivars gebruik ten einde dieselfde produktiwiteitspeile te behou.
Mielies gaan ook meer water oor tyd benodig om optimaal te kan groei. Met grondvog wat reeds verminder, word waterverlies deur verdamping versnel en maak dit hittestres meer waarskynlik.