
TWEE WAGTE EN ‘N PASIËNT MET ‘N PRINSES
Donkies is prooidiere, nie roofdiere nie. Hul werk in die natuur is om hulself en hul trop te beskerm. Lily en Finn was aanvanklik sekuriteitswagte vir skape. Ongelukkig het dié twee gedink dat lammetjies wolwe in skaapklere was en is hul sekuriteitsdiens onmiddellik opgeskort. Dié twee kan nou heerlik ontspan by die Rest ur Ass Donkey Sanctuary in Ruimsig (Johannesburg/Roodepoort).
Skaapprinses Leia bied wonderlike ondersteuning wanneer haar donkiefamilie by Onderstepoort moet wees vir behandeling. Tippysukkel al maande lank met ‘n besering en Leia hou haar kalm terwyl sy daar is.
‘N AASVOËL MOET MOS KAN SIEN
Nog ‘n organisasie in die Hartbeespoort-omgewing wat fokus op geveerdes, is VulPro, ‘n nie-winsgewende aasvoëlbewaringsorganisasie. Onlangs is een van die aasvoëls na die diere oogkliniek in Fourways, Johannesburg geneem. Dié hospitaal word dikwels ingeroep om nie-winsgewende en wild-rehabilitasieorganisasies te help. Dr Burger het die intraokulêre druk van die beseerde oog geëvalueer. Dié gespesialiseerde toetse help om die omvang van die skade te diagnoseer en die beste behandelingsplan vir die geveerde pasiënt te bepaal.
KLEIN KLOUE, GROOT OPWINDING
Groot opwinding heers by NWK se hoofkantoor op Lichtenburg met die geboorte van ‘n broeipaar gevlekte ooruile se drie uilkuikens. NWK het in 2022 ‘n uilhuis aangeskaf en dié gesin het dit sedertdien hul permanente tuiste gemaak. Nog twee uilhuise is later by die Owl Rescue Centre in die Hartbeespoort-omgewing aangeskaf.
Uilkuikens bring sowat twee weke op die grond deur voordat hulle finaal op hul eie gaan. Baie uiltjies word in hierdie tyd verkeerdelik van hul ouers geskei, omdat mense in hul onkunde dink die kuikens is beseer en hulle dan optel.
‘N BABA WORD GERED
Hierdie klein tierboskat is een nag, op ‘n plaaspad gevind waar sy roerloos gelê het. By nadere ondersoek het die besorgte motoris ontdek dat sy wel asemhaal. Sy is dadelik na die South African Wildlife Rehabilitation Centre waar hulle met die hulp van ‘n veearts vir 72 uur gespook het om haar aan die lewe te hou. Hulle vertrou dat Freya volledig sal herstel, maar dat dit ‘n lang herstelproses gaan wees.
MENSE KAN WREED WEES
Die Owl Rescue Centre is toegewy aan die beskerming van uile en moet gereeld van dié geveerdes red. Een van die mees ontstellende reddingspogings in die afgelope tyd, was dié uil wat met cable ties vasgebind is en vir R100 te koop aangebied is langs die pad. Indien jy só ‘n wrede daad raaksien, red asseblief die uil of kontak die sentrum by 082 719 5463.








