Noordwes se Rooivleisprodusente-organisasie (NWRPO) se jaar-
kongres is op 15 April by The Barn by Senwes se hoofkantoor in Klerksdorp aangebied. Die tema was “Volhoubaarheid begin by jou plaashek”. NWK was een van die borge van dié geleentheid.
DIE kongres is deur verskeie rolspelers bygewoon, met sprekers soos dr Peter Evans (veearts van die RMIS), die landbou-ekonoom Ockie Olivier en Charl Saunderson, ‘n bekende Dorper-produsent.
Leer om risiko’s te bestuur
Die wenners in ‘n onvoorspelbare omgewing het nie die grootste plase nie, maar bestuur risiko’s, geld en inligting met die grootste presisie. Ockie Olivier is verbonde aan IIQ Consultants in Bloemfontein en het kongresgangers toegespreek oor doeltreffende finansiële beplanning en risikobestuur in ‘n beesboerdery.
“Dit is ‘n wanopvatting dat boerdery sonder bekommernisse is. Produsente is onderhewig aan enorme geldelike druk, globale skokke, ekonomiese en weerveranderlikes, asook bemarkings- en prysprobleme,” het hy gesê.
Beesprodusente moet hulle bedrywe sistematies benader en volgens Ockie die volgende uitpluis:
- Jy alleen gaan jou op jou plaas hou. Wat is dus jou “why”? Dit gaan jou besluitneming raak.
- Kweek selfbewustheid en ken jou eie verdraagsaamheid vir risiko’s.
- Daar is dubbele sleutelprestasie-aanduiders – biologiese prestasie moet voortdurend teen finansiële gesondheid gemeet word.
- Stelselkennis – verstaan hoe biologiese en ekonomiese stelsels werk en met mekaar integreer.
- Data bo instink – syfers bied die enigste objektiewe basis vir risikobestuur.
“Hoe reageer jy op risiko’s? Is jy reaksie- of responsgedrewe?” Eersgenoemde steun op emosie terwyl laasgenoemde besluite op data geskoei word.
VIER PILARE VIR FINANSIËLE VEERKRAGTIGHEID
Ockie het vier pilare vir finansiële veerkragtigheid uitgelig:
- Ken jou syfers. Skakel “boer in die donker” uit. Akkurate intydse syfers kan keer dat klein foute in ‘n krisis ontaard, wat jou onderneming kan vernietig.
- Beheer jou koste. Elke rand wat gespaar word, is ‘n rand se wins wat nie deur oorbeweiding uit die grond onttrek hoef te word nie.
- Beplan jou kontantvloei. Dit voorkom lenings met hoë rente in noodge
- Belê doelgerig. Herbelê slegs in bates wat saamgestelde ekwiteit teen toekomstige wisselvalligheid opbou.

Finansiële doeltreffendheid word uiteindelik deur biologiese doeltreffendheid gedryf en die akkurate versameling en interpretasie van data is daarom van kardinale belang. Produsente moet die volgende veranderlikes se doeltreffendheid meet:
- Kudde – bepaal die lewende gewig geproduseer teenoor die teelkoeigewig. Dit is ‘n aanduider van genetiese en reproduktiewe prestasie.
- Veld – bepaal die lewende gewig geproduseer per hektaar. Dit weerspieël die doeltreffendheid van weidingsbestuur.
- Reënval – meet die omset van reën ná produksie deur massa-indekse oor die onderskeie seisoene te gebruik.
- Infrastruktuur – produsente wat na regeneratiewe weiding oorskakel, besef vinnig dat die grootste beperkende faktor nie beeste of gras is nie, maar kampe en water. Sowat 10% tot 15% van ‘n plaas se waarde moet in omheining- en waterinfrastruktuur belê word. Goeie infrastruktuur maak bestuur makliker en meer voors
Wanneer dit by beesboerdery kom, neem besluite betyds om hulle uitkomste te openbaar. Veranderings kan maande of selfs jare neem om hul ware impak te wys, en teen daardie tyd kan dit baie duur wees om foute te korrigeer.
Simulasiemodelle kan in hierdie geval ‘n waardevolle rol speel. Ockie het kongresgangers aangemoedig om hul plase “op papier” te bestuur voordat hulle veranderings implementeer.
“Deur faktore soos die hektare, reënval, kuddestruktuur, drakrag en koste by ‘n model in te sluit, kan verskillende scenario’s getoets word sonder om die onderneming aan werklike risiko’s bloot te stel,” het Ockie verduidelik.
“Dieselfde plaas kan verskillende resultate voortbring. Die verskil is nie in die grond self nie, maar in hóé dit bestuur word. Simulasie verbeter ook die begrip van volhoubaarheid. ‘n Boerderybedryf kan met die eerste oogopslag winsgewend lyk, maar sodra rente, onttrekkings en ander uitgawes bykom, verander die prentjie noemenswaardig. ‘n Model kan help vasstel of ‘n stelsel werklik winsgewend is en of dit onder druk funksioneer.”
Hoewel Ockie die verskillende uitkomste van tipiese, tradisionele en regeneratiewe beesboerdery as voorbeelde voorgehou het, het hy beklemtoon dat daar nie ‘n regte of verkeerde manier van boer is nie.
“Elke produsent het ‘n unieke stel hulpbronne, finansiële kapasiteit en risikoverdraagsaamheid. Simulasiemodelle bied ‘n geleentheid om verskillende opsies te vergelyk en ‘n strategie te kies wat dit met die individuele situasie belyn.”
Ockie het benadruk dat die produsent nie risiko’s uit landbou kan haal nie, maar dit kan verstaan, bestuur en strategies navigeer. ‘n Uitsonderlike risikobestuurder doen die volgende:
- Ken sy/haar eie perke.
- Ken die ware, objektiewe potensiaal van sy/haar grond.
- Samel data in en skakel raaiwerk uit.
- Vestig ‘n strategie deur simulasie.
- Implementeer die stelsel met onwrikbare dissipline.
- Beheer uitkomste en reageer nie daarop nie.
“Begin deur in jouself te belê. Kweek selfbewustheid, emosionele intelligensie en selfdissipline.”
Produsente behoort ook ‘n ritme in hulle boerdery-ondernemings te vestig. “Operasionele ritme is ‘n noodsaaklike suksesfaktor wat finansiële stabiliteit, produktiwiteit en langtermynveerkragtigheid onderskryf.
“Daar moet ‘n gestruktureerde en konsekwente siklus wees waar data vasgelê, prestasie en finansiële uitkomste beoordeel en regstellende aksies geïmplementeer word.”
Ockie het met die volgende afgesluit: “Biologie sonder finansies is ‘n stokperdjie. Finansies sonder biologie is ‘n spreiblad en volhoubaarheid is die bemeestering van beide.”
Boer dat dit bars
Dis nie die sterkste individu wat oorleef nie, maar die een wat die vinnigste aanpas. Die motiveringspreker en skaapboer, Charl Saunderson, boer met Dorpers op die plaas Nooitgedacht in die ongenaakbare Kenhardt-distrik in die Noord-Kaap. Hy kén ‘n droogte wat jou op jou knieë dwing en die inspanning wat dit kos om dan positief te bly.
“Ek het geweet droogte gaan my óf ryk óf doodmaak,” het hy gesê. Kongresgangers is vuisvoos weens bek-en-klouseer (BKS) en word boonop lamgelê deur hemelhoë dieselpryse.
“Ons voorouers het uitdagings gehad en ons sal ook nie gespaar bly nie. Onthou egter, olie sorg vir gerief, maar kos is noodsaaklik. Hongersnood is baie ongeriefliker as ‘n Hilux wat nie kan start nie.”
Charl het kongresgangers gevolglik aangemoedig om hul verantwoordelikheid ernstig op te neem en “te boer dat dit bars”. “Hoe kan jy ‘n uitdaging in ‘n geleentheid omskakel? Dis nie die sterkste ou wat oorleef nie, maar die een wat die vinnigste aanpas. Fokus jy op probleme of op geleenthede?”
Hy meen dat hoewel produsente duidelike doelstellings moet hê, die probleem dikwels lê by die uitvoer daarvan. “Op pad hierheen het ons deur talle slaggate gery. Ek dink egter nie Suid-Afrika het ‘n slaggat-probleem nie, maar eerder ‘n leierskapsprobleem. Elke probleem op jou plaas is ook te wyte aan swak leierskap.”
In die dorre Karoo waar hy boer, is sy grootste vrees om nie grondvog vas te vang nie. “Ek moet probeer om grond se infiltreerbaarheid te verhoog sodat ek meer plante kan vestig en die veld se drakrag kan verhoog, ten einde meer Dorpers te huisves en meer vleis te produseer.”
Charl het kongresgangers aangemoedig om die regte vrae te vra. “Wat moet ek doen?” is ‘n dom vraag. “Wat moet ek doen om byvoorbeeld ‘n bepaalde doelwit te bereik, gaan jou tot ‘n meer sinvolle slotsom laat kom.”
Hy het verwys na ‘n besondere droë jaar toe goed bedoelende produsente van elders in die land hooi na hulle in die Karoo gestuur het. “Dit was egter nat en ons kon dit nie vir die diere gee nie. Ek het wel besef dit was nie heeltemal nutteloos nie. Wat kon ek doen om my grond se infiltreer-
baarheid te verhoog? Ek het die hooi op kaal grond oopgestrooi. Toe die reën uiteindelik kom, was dit koel en nat onder die hooi. Vog het langer behoue gebly en die veld het van onder deurgekom.”
Wanneer Charl nie ‘n antwoord op die “om” kan vind nie, is hy nie huiwerig om by ander produsente wat uitnemend boer, raad te vra nie. “Jy word soos die vyf mense met wie jy jouself omring. Maak seker dit is goeies.”
Hy het gewaarsku dat die grootste rede vir bankrotboerderye egskeidings is. “Gee geweldig baie aandag aan julle vroue. Dis die belangrikste persoon in jou lewe. Maak die plaas jou vrou en seuns se happy place.”
Charl het bygevoeg: “As jy suksesvol wil boer, moet jy maats maak. Jy moet só boer en leef dat iemand jou met ‘n goeie geleentheid sal nader. Jag sáám soos wildehonde, dan ervaar jy sukses.”
Ter afsluiting het hy gesê: “As jy ‘n pad met die Here kan loop, is Goliat ook nie só groot nie. Om te boer sónder die Here, is ‘n dapper man se werk.”







