
Na die sukses van die eerste Ysters vir Landbou-inisiatief, waartydens R1 miljoen vir landelike veiligheid ingesamel is, beoog NWK se ystermanne- en vroue om vanjaar ‘n nog groter verskil te maak. Besighede, boereverenigings, gemeenskaps-
organisasies en individue word uitgenooi om hul kant te bring en deel van die inisiatief te word.
Die veldtog bereik op 22 November ‘n hoogtepunt tydens die ISUZU IRONMAN 70.3 Mosselbaai, terwyl fondse vir Agri Securitas – Agri SA se landelike veiligheidsfonds – ingesamel word. Duisende produsente, landbouwerkers en hul gesinne het reeds baat gevind by projekte wat deur dié trustfonds ondersteun word. Hierdie projekte rus landbougemeenskappe toe met voorkomende veiligheidsmaatreëls en -infrastruktuur asook traumaberading.
“Die Ysters vir Landbou-inisiatief wys wat moontlik is wanneer mense en organisasies vir ‘n gemeenskaplike doel saamwerk,” sê Alf White, Groephoof- Finansiële Beampte van NWK en inisieerder van die projek. “Dit bevorder nie net gesonde leefstyle en spanwerk nie, maar dra ook direk by tot veiliger landelike gemeenskappe regoor Suid-Afrika.”
Raak só betrokke
Deelnemers kan as individuele atlete of as deel van ‘n aflosspan aan die IRONMAN 70.3 Mosselbaai deelneem. Die wedren bestaan uit ‘n swemafstand van 1,9 km, ‘n fietsrit van 90 km en ‘n hardlooproete van 21,1 km deur die asemrowende natuurskoon van Mosselbaai en die Tuinroete.
NWK het reeds inskrywings vir 20 aflosspanne en tien individuele deelnemers vir die 2026-byeenkoms aangekoop. Deelnemers wat van NWK se vooraf aangekoopte inskrywings gebruik maak en onder NWK se naam deelneem, verbind hul daartoe om minstens dubbel die waarde van die inskrywingsfooi in te samel. Deelnemers wat onder ‘n ander entiteit wil deelneem, kan hul inskrywings by NWK aankoop, maar hul eie fondsinsamelingsdoelwitte bepaal.
Deelname is egter nie beperk tot swem, fietsry of hardloop nie. Ondersteun die inisiatief ook deur:
- fondse deur die GivenGain-platform in te samel;
- deelnemers of spanne deur die GivenGain-platform te borg;
- ‘n direkte donasie aan Agri Securitas te maak; of
- bewusmakings- en fondsinsamelingsinisiatiewe te ondersteun.
Agri Securitas is ‘n geregistreerde openbare weldaadsorganisasie wat goedgekeur is om artikel 18A-kwitansies vir kwalifiserende donasies uit te reik. Kwalifiserende donasies kan, onderhewig aan SARS se vereistes en toepaslike belastingwetgewing, vir ‘n belastingaftrekking in aanmerking kom.
Ysters vir Landbou bring persoonlike welstand, spanwerk en gemeenskapsbetrokkenheid saam ter ondersteuning van een van die belangrikste sake in Suid-Afrikaanse landbou – landelike veiligheid. Met groeiende belangstelling uit die landbouwaardeketting glo NWK dat vanjaar se inisiatief die potensiaal het om ‘n nog groter bydrae tot veiliger landelike gemeenskappe te lewer.
KONTAKBESONDERHEDE
- Vir meer inligting oor deelname, fondsinsameling of borgskapgeleenthede, kontak Jacques de Wet, NWK se bemarkingsbestuurder, by +27 18 633 1193 of per e-pos by jdewet@nwk.co.za.
- Rig enige medianavrae aan Johan Bezuidenhout, groepbestuurder Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie, by +27 18 633 1368 of e-pos: jbezuidenhout@nwk.co.za.







