
DIS ‘n Vrydagmiddag in die winter in Mbombela (Nelspruit). Ek het uiteindelik ‘n langnaweek ná ‘n paar besige weke as hardenuus-joernalis. Ek vat die pad met een van die pendeldiens Citybug se bussies na my tuisdorp, Potchefstroom. Ons ry met die N4 deur Schoemanskloof. Dis groen en ruig, en ryp is hier ‘n onbekende konsep. Die Laeveld is ‘n gewilde vakansiebestemming, bekend vir sy pragtige natuurskoon.
Ek is egter op pad na êrens mooier. Vir my, altans. Vanaf Machadodorp begin die pad om minder te kronkel tussen berge onderweg na die Hoëveld. Die spanning van die afgelope paar weke begin wyk soos wat die landskap platter word en ek verder as 300 m om ‘n draai kan sien. Belfast, Middelburg, eMalahleni (Witbank) …
Ek word later wakker van ‘n slapie en droë mielies op die lande flits verby deur die bussie se vensters. Gereed om gestroop te word. Ek glimlag. Dis vir my mooi. Bekend. Ek sien goud, waar ander altyd net stof en vaal sien. Ons stop in Potch en ek het uiteindelik vrede. Ek is tuis.
Buiten Potch, het ek baie tyd in Coligny by my ouma en die familieplaas, Klipfontein, deurgebring. Ek het Noordwes as provinsie saam met my pa op sy werksuitstappies deurkruis en relatief goed leer ken. In 2016, ná bykans tien jaar in die Laeveld, het ek ‘n betrekking by die SABC op Mahikeng aanvaar. Dit was tyd om huis toe te kom.
Prediker 3 leer ons alles het sy vasgestelde tyd. Nou, ná tien jaar, is dit weer tyd vir my om te groet – Noordwes, Lichtenburg, NWK, asook Arena en sy lesers. Ná sewe jaar en vyf maande hier verhuis ek na Pretoria. My man wag reeds vir my daar sedert hy op 1 Februarie ‘n gulde loopbaangeleentheid daar aangegryp het.
Die trane loop met die skryf van hierdie rubriek. Dis nie ‘n maklike totsiens nie. Ek sluit ‘n hoofstuk af wat vir my geweldige vreugde en vervulling verskaf het. Elke produsent waaroor ek geskryf het – julle het my met ope arms verwelkom en my geïnspireer met julle verhale oor liefde vir boer, innovasie en vasbyt.
Sommige van julle was besonder kwesbaar en openhartig tydens ons onderhoude, met stemme wat kraak en oë wat met trane opdam wanneer julle van Sy onbeskryflike groot genade vertel. Ek dink nie ek het een boer ontmoet wat nie groot ontsag vir ons Hemelse Vader het nie. Baie dankie dat julle my in julle vertroue geneem en julle asemrowende stories met my gedeel het. Wat ‘n voorreg!
Ook aan elke leser van hierdie rubriek – baie dankie dat ek my ervarings, alledaagse lief en leed en spesiale oomblikke met julle kon deel.
Mag Arena, met sy ryke geskiedenis van 58 jaar, sy lesers vir nog baie dekades ingelig hou en motiveer om vas te byt soos net die mense van hierdie geweste kán! Voorspoed!







