Die wildbedryf in Suid-Afrika speel ‘n belangrike ekonomiese én bewaringsrol, ook in NWK se bedieningsgebied. Alhoewel die pryse van wild, veral die sogenaamde “eksotiese kleur wild”, oor die afgelope dekade aansienlik gedaal het, bly die bedryf ‘n bron van buitelandse beleggings, werkskepping en ontspanning vir Suid-Afrikaners.
IN Engels word twee name vir wildboerdery gebruik, naamlik wildlife ranching en game farming. Wildlife ranching verwys na ekstensiewe, weidingsgebaseerde wildboerderypraktyke, terwyl game farming enige intensiewe praktyke insluit, soos die gebruik van heinings, byvoeding, watervoorsiening en selektiewe teling.
Die definisies in beide Engels en Afrikaans is egter nie heeltemal reg nie en skep dikwels die indruk dat ekstensiewe wildboerdery geen insette van die produsent vereis nie, terwyl elke inset van die produsent afhanklik is by intensiewe stelsels. In werklikheid is ekstensiewe wildboerdery meer vergelykbaar met deelname aan die jag van vrylopende of trekwild. Hier word wild as res nullius (behoort aan niemand nie en is dus die land of staat se verantwoordelikheid) gesien. Hierdie model word byvoorbeeld in wildkonsessies in lande soos Botswana, Mosambiek en Zimbabwe toegepas, waar wild vrylik oor die hele land kan beweeg.
In Suid-Afrika kan elke wildsplaas waar die eienaarskap van die wild erken word volgens hierdie definisie as intensiewe wildboerdery beskou word, aangesien daar insette op die plaas gelewer moet word. Die term “intensiewe wildboerdery” onderskat egter dikwels die rol van veld. Hoewel voer en byvoeding in intensiewe stelsels voorsien word, verander dit nie die fokus weg van die benutting van natuurlike hulpbronne nie.
Drakrag
Drakrag kan beskryf word as die hoeveelheid veld of natuurlike weiding wat nodig is om een grootvee-eenheid (GVE) vir ‘n bepaalde tyd, meestal ‘n jaar, te onderhou. Hierdie beginsel geld nie net vir bees- of skaapboerdery nie, maar ook vir wildboerdery. In die praktyk word dit gewoonlik as hektaar per GVE (ha/GVE) uitgedruk.
Aangesien wildspesies na ‘n GVE-waarde omgeskakel kan word, lyk dit eenvoudig om die drakrag by wildboerdery te kan bereken.
Byvoorbeeld: 1 rooibok = 0,19 GVE.
Teoreties sou ‘n mens dus kon sê dat as ‘n plaas 10 ha per GVE dra, ‘n sekere aantal rooibokke aangehou kan word. Maar in die werklikheid is dit nie so eenvoudig nie, want wild reageer anders op ruimte, voeding en sosiale druk as vee. Hier kom die konsep van belading ter sprake.
Belading
Belading verwys na die werklike aantal diere wat in ‘n sekere area en tyd aangehou kan word. Waar die belading by vee hoofsaaklik deur die produsent bepaal word, is dit by wild meer kompleks omdat wild se sosiale gedrag en territoriale aard per spesie ‘n natuurlike beperking op die getalle plaas.
Weer met rooibokke as voorbeeld: Al wys die berekende drakrag dat ‘n sekere kamp 60 rooibokke kan onderhou (direk omgeskakel vanaf drakrag in ha/GVE), sal die werklike belading selde daarby uitkom.
Rooibokke is territoriaal en dominante ramme verjaag jonger diere, wat die kuddegrootte in praktyk beperk. Dus sien ‘n mens selde dat die belading vir rooibokke hoër is as een dier per 4 ha, ongeag die hoeveelheid voer wat beskikbaar is.
VOORBEELD
‘n 100 ha-plaas met ‘n drakrag van 10 ha/GVE produseer genoeg voer vir 53 rooibokke (ongeveer 10 GVE). Weens rooibokke se gedrag sal die werklike getal egter slegs sowat 25 diere wees (4,75 GVE). Die plaas is dus 0,05 GVE/ha belaai of slegs 47% van die teoretiese drakrag.
Met wildboerdery kan hierdie beperking dikwels oorkom word deur verskeie wildspesies te kombineer. Aangesien elke spesie unieke voedingsgewoontes en habitatvoorkeure het, kan hulle ‘n bepaalde rol in die veld vul sonder om met mekaar te kompeteer.
Voorbeeld van multispesie-aanwending op 100 ha:
25 rooibokke = 4,7 GVE
25 springbokke = 3,7 GVE
3 koedoes = 1,6 GVE
Totaal van ±10 GVE (100% van die drakrag)
Hier sien ons dat waar enkelspesie-aanwending slegs 47% benutting moontlik maak, multispesie-aanwending die volle drakrag kan realiseer.

Veldbenutting
Nie alle diere vreet dieselfde nie, en dit is juis hierdie diversiteit wat veldbenutting in wildboerdery kompleks maak. Wildspesies kan in twee hoofgroepe verdeel word, naamlik grasvreters en blaarvreters. Binne hierdie groepe bestaan daar egter verdere fyn verdelings.
GRASVRETERS
- Massavreters (byvoorbeeld witrenosters, buffels, gemsbokke en waterbokke). Hierdie groep is minder selektief en verkies langer grasspesies.
- Konsentraatvreters (byvoorbeeld blesbokke, rooihartbeeste en vlakvarke). Hierdie groep is meer selektiewe vreters en verkies korter en normaalweg meer smaaklike grasse.
BLAARVRETERS
- Gemengde vreters (byvoorbeeld rooibokke, elande, springbokke en olifante). Dié groep gebruik gras sowel as blare, struike en selfs vrugte. Hulle kan beter aanpas tydens droogtes en seisoenale veranderinge in voervoorsiening.
- Streng blaarvreters (byvoorbeeld koedoes, bosbokke, swartrenosters en kameelperde). Hierdie groep verkry hul voeding hoofsaaklik uit bome en struike. Hulle is meer afhanklik van die beskikbaarheid en struktuur (hoogte) van houtagtige plantegroei.
Hieruit volg dat veldbenutting habitat-spesifiek is. ‘n Koedoe pas byvoorbeeld swak aan in oop grasveld waar min bome is en kameelperde benodig bome van ‘n sekere minimum hoogte om te vreet. In sulke gevalle kan diere selfs honger ly, al is daar volop gras.

(GVE)-ekwivalente, aanwinspersentasie en afhanklikheid van water.
Onder- en oorbenutting
Die gesondheid van veld word nie net deur oorbenutting in wildboerdery bedreig nie, maar ook deur onderbenutting.
- Oorbenutting (of oorbeweiding) kom veral in soetveldstreke voor, waar beperkte biomassa vinnig oorbenut word en tot ‘n voer- en voedingsgebrek lei.
- Onderbenutting is meer tipies van suurveld waar ou plantmateriaal opbou en dooie gras die groei van nuwe gras beperk. Die veld akkumuleer biomassa, maar dit is van lae voedingswaarde. Dit gaan dikwels gepaard met ‘n toename in indringer- en ongewenste spesies soos bankrotbos (Seriphium plumosum) en terpentyngras (Cymbopogon pospischilii). Die resultaat is dat diere kondisie verloor, al lyk dit of daar genoeg voer beskikbaar is.

Smaaklikheid
Onsmaaklike spesies is dié wat moeilik of selfs nooit gevreet word nie. Smaaklike spesies verwys na plantspesies wat gereeld deur weidingsgebaseerde diere benut word.
- Onsmaaklike grasse wat tydens onderbenutting toeneem, sluit in terpentyngras (Cymbopogon pospischilii) en dekgras (Hyparrhenia hirta). Met oorbenutting neem onsmaaklike grasse soos steekgras (Aristida junciformis) toe.
- Onsmaaklike bosse en bome sluit onder andere bankrotbos (Seriphium plumosum), katbos (Asparagus laricinus), swarthaak (Senegalia mellifera), swartwattel (Acacia mearnsii) en bloekombome (Eucalyptus spp) in.
- Smaaklike grasse sluit bloubuffelgras (Cenchrus cilliaris), witbuffelgras (Panicum maximum) en rooigras (Themeda triandra) in. Dié grasse neem af in die spesie-
samestelling van veld tydens oorbenutting en onderbenutting. - Smaaklike bome sluit hoofsaaklik Vachellia (voorheen bekend as Acacia) of doringbome soos soetdoring (Vachellia karroo) en kameeldoring (Vachellia erioloba) in. Swarthaak- en blouhaakbome (Senegalia mellifera) produseer baie smaaklike blare, maar die plante moet beheer word omdat hulle gras uit die weidings verdring.
- Mopanebome (Colophospermum mopane) en sommige doringbome, soos haak-en-steek (Vachellia tortilis), kan tydens beweiding tanniene vrystel, wat hul smaaklikheid beïnvloed.
Hieruit blyk dit dat veldbestuur in wildboerdery nie slegs ‘n kwessie van “genoeg of min diere”
is nie, maar ‘n fyn balans tussen die hoeveelhede van beide verskillende diere en verskillende plante is.
Veldrus
In die meeste wildboerderye word aanhoudende beweiding toegepas, waar diere regdeur die jaar in dieselfde kamp bly. Dit het tot gevolg dat die veld nooit voldoende rus nie.
In teenstelling met gewone plaasdiere kan wild nie maklik tussen kampe verskuif word nie. Dit maak die toepassing van beplande veldrus in wildboerdery uitdagend. Tog hou veldrus talle voordele, ook vir die wildboer, in:
- Veldrus versamel biomassa, wat later benut kan word as weiding of vir gebruik as brandstof tydens beheerde brande.
- Dit verhoog die plaas se weerstand teen droogtes.
- Dit stel sekere spesies in staat om saad te skiet en in getalle toe te neem, wat uiteindelik die veld se spesiesamestelling en voedingswaarde ve
Die beste tyd om veld te laat rus, is tydens die groeiseisoen. Dit kan dan op verskeie maniere bevorder word:
- Kampstelsels kan gebruik word waar wild van een kamp na ‘n ander verskuif word, met behulp van voertuie soos helikopters, of deur die verskuiwing van water en lek.
- In suurveld kan dele van die plaas gebrand word. Beweiding word dan in die daarop-
volgende seisoen op die voorheen gebrande dele gekonsentreer. Dit maak die rus van die ander dele moontlik. - Die strategiese gebruik van aangeplante weiding as alternatief tot die groen veld. Soos by voorheen gebrande veld, word die benutting op aangeplante weidings gekonsentreer sodat die natuurlike veld kans kry om te herstel.
- Op groot plase kan die strategiese plasing van lekbakke en drinkwaterkrippe gebruik word om wild se beweging te beïnvloed sodat sekere dele van die plaas tydelik gespaar word.
Aanvulling
Die versorging van alle plaasdiere, wild ingesluit, moet met verantwoordelikheid gedoen word. Die meeste wild benodig byvoeding omdat hulle ingeperk word en nie hul oorspronklike natuurlike habitat kan benut nie. Gevolglik kan daar voedingstekorte by hierdie diere ontstaan. Hierdie tekorte lei tot verswakte kondisie, laer reproduksie, hoër mortaliteit (swak diere is kwesbaarder vir preda-
sie en siektes) en swakker produksie. By wild is daar ook ‘n korrelasie tussen die voedingsvlak en horinglengtes, sowel as karkasgewigte, gevind.
In wildboerdery speel aanvullings dus ook ‘n belangrike rol. Die klem bly egter op “aanvulling” en om die tekorte in die veld “aan te vul” sonder om die grasinname te onderdruk.
‘n Groot verskeidenheid produkte is beskikbaar wat spesifiek vir wild bemark word, maar dit bly belangrik om te verseker dat die aanvulling wel in lyn is met die plaas se spesifieke veldtoestand en wildspesies. Deur die aanvullingstrategie vir jou wild te hersien, kan tekorte voorkom en koste beperk word.
Weiveldbestuurspraktyke
POPULASIEBEHEER
Populasiebeheer is die mees basiese weidingbestuurspraktyk op ‘n wildsplaas. Die noukeurige monitering en beheer van wildgetalle volgens die veldtoestand kan slegs gedoen word indien die plaas se drakrag bekend is. Waar veld se drakrag oorskry word, moet meer wild verwyder word. Om wildgetalle jaarliks konstant te hou, moet die aanwas van die wild beheer word. Hierdie konsep staan bekend as “volhoubare oes”.
Die aanwaspersentasie van wild is egter laag in vergelyking met vee. Dit is nie noodwendig weens ‘n lae reproduksievermoë nie, maar eerder die samestelling van die trop. In ‘n trop van 100 wilds-
bokke kan daar byvoorbeeld vyf groot volwasse manlike diere wees wat geslagsryp is (ouderdom drie tot sewe jaar, afhangend van ras of tipe), 15 jong manlike diere van een tot twee jaar, 40 vrou-
like diere wat geslagsryp is (ouderdom twee tot sewe jaar), 15 jong vroulike diere van een tot twee jaar wat nog nie geslagsryp is nie (vervangingsdiere) en 30 jong diere jonger as een jaar.
Daar is dus slegs 40 vroulike diere wat moontlik dragtig kan raak. Almal raak egter nie dragtig nie en elke dragtige dier produseer nie noodwendig ‘n lam/kalf nie. Die aanwas bereik ook nie nood-
wendig speenouderdom nie. Daarom is ‘n aanwas van ongeveer 30% waarskynlik die norm vir die meeste wildspesies. Die verwagte aanwas van wild is dus aansienlik laer as byvoorbeeld by beeste, waar 80% tot 90% nie ongewoon is nie.
BOSBEHEER
Vroeër in die artikel is genoem dat bosse en bome ‘n belangrike voedingsbron vir wild is, veral vir spesies wat hoofsaaklik boom- en struikvreters is. Dit is egter belangrik om ‘n balans te handhaaf sodat die bos- en boomkomponent nie te hoog word en die drakrag van die plaas negatief beïnvloed nie.
Bome soos swarthaak, blouhaak en sekelbos (Dichrostachys cinera) kan gras verdring en die veld se drakrag verlaag. Hoë bome groei buite die bereik van blaarvretende diere en dra gevolglik nie tot die voerproduksie by nie.
Deur sulke bome en bosverdigting te beheer, skep die produsent ruimte vir gras of jonger, korter en meer gunstige bome om te groei. Daarom is ‘n gebalanseerde bosbeheerprogram, wat die digtheid, hoogte en spesie in ag neem, ‘n noodsaaklike deel van veldbestuur.
VELDBRANDE
Brande verwyder oorbodige dooie materiaal en droë bome, wat die potensiële groei van gras kan onderdruk, uit die veld. Deur dooie materiaal te verwyder, word nuwe, voedsame en smaaklike hergroei gestimuleer, wat diereproduksie ondersteun, veral in suur- en gemengde veld.
As die vuur warm genoeg is, kan dit ook die voorkoms van struike, bosse en kleiner bome beperk. Veldbrande is ook vroeër gesien as ‘n moontlike strategie om veldrus te bewerkstellig.
Samevatting
Weidingsbestuur op ‘n wildsplaas het unieke uitdagings en vereistes. Besluite oor praktyke soos die aanplant van weidings, wisselweiding, beheer van wildgetalle en -spesies, sowel as bosbeheer en ontbossing, speel almal ‘n rol in die plaas se volhoubaarheid. Deur doelgerigte weiveldbestuur kan die aanvullingskoste verlaag en die weerstand teen droogtes versterk word.
Bronnelys
- African Wildlife Auctions (AWA). Wildlife industry trends and analysis
for 2022. [Aanlyn beskikbaar]: https://awla.co.za/wp-content/uploads/
2023/01/African-Wildlife-Auctions-Wildlife-Industry-Trend-Analysis-2022.pdf - Bothma J du P, 2017. Wildplaasbestuur. 4de uitgawe. Pretoria: Van Schaik
- Departement van Landbou, Bosbou en Viss Biodiversiteitsektor-vooruitsigte en opsomming oor die wildbedryf en ekonomie in Suid-Afrika. [Aanlyn beskikbaar]: https://biodiversityinvestment.co.za/wildlife-economy
- Republic of South Africa. Game Theft Act (Act 105 of 1991). [Aanlyn beskikbaar]: https://www.justice.gov.za/legislation/acts/1991-105.pdf
- Shepstone C, 2015. Maximums & minimums. Wildlife Ranching South Africa (WRSA). [Aanlyn beskikbaar]: http://geowild.co.za/documents/WRSA%2014%20Game%20Nutrition%20101%20-%20Article%2014%20-%
20Minimums%20and%20Maximums%20Horn%20growth.pdf - Smith B, 2006. The Farming Handbook. Pietermaritzburg: University of KwaZulu-Natal Press. Hoofstuk 6.5: Smallstock production – wildlife
- Tainton N, 2013. Veld Management. Pietermaritzburg: University of KwaZulu-Natal Press. Hoofstuk 11: Veld management on the game ranch
- Wildlife Ranching South Africa (WRSA). Wildlife Ranching SA. [Aanlyn beskikbaar]: https://www.wrsa.co.za/







