
Mike van Niekerk boer reeds die afgelope 20 jaar op Vlakfontein in die Derby-omgewing, waar hy ‘n gemengde boerdery bedryf. Hy het in dié omgewing grootgeword en van jongs af geweet dat die plaaslewe sy bestemming is. Landbou was nie bloot ‘n beroepskeuse nie – dit was ‘n leefwyse waarmee hy hom vereenselwig het.
Mike van Niekerk is waar hy moet wees. Ten spyte van uitdagings soos klimaatsverandering, die onsekerheid oor grondeienaarskap, hoë insetkoste, stygende minimumlone en die moontlikheid van nog ‘n El Niño-seisoen, bly hy positief. Vir hom is daar een goeie rede hiervoor – hy is waar hy moet wees. “Dit is ‘n voorreg as ‘n mens dit kan doen waarvoor jy lief is,” sê Mike.

Sy pad na die landboubedryf het reeds op skool begin toe hy sy laaste drie hoërskooljare aan Hoërskool Bekker in Magaliesburg voltooi het. Daar het sy belangstelling in landbou verder gegroei en ná skool het hy Landboudiereproduksie by die destydse Technikon Pretoria gaan studeer.
Ná sy studies het Mike op sy pa, Gerrie, se plaas, ook in die Vlakfontein-omgewing, met kommersiële skape begin boer. Dit is hier waar hy meer praktiese ervaring opgedoen het en sy voete stewig in die landboubedryf gevestig het.
Die gesin het egter ‘n groot terugslag beleef toe ‘n operasie wat Gerrie ondergaan het, komplikasies tot gevolg gehad het wat breinskade veroorsaak het. Hy het daarna nog elf jaar geleef voordat hy oorlede is.
Later het Mike op sy skoonpa, Hannes Liebenberg, se grond begin boer. Dis is hier waar Mike en sy gesin steeds woon. Die boerdery sluit vandag sowat 750 kommersiële en voerkraalbeeste, hoenders vir Supreme Poultry en gesaaides, waaronder mielies, sojabone, sonneblom en suikerbone, in.

Groei vir Goud
Mike het die afgelope drie jaar met sy sojaboonproduksie naam gemaak. Hy het dié gewas sowat vyf jaar gelede as deel van ‘n wisselboustelsel begin verbou, nadat hy toenemend probleme met die gehalte en opbrengs van sy mielieoes begin ervaar het.
Op sy eie grond, wat sowat 160 ha saaigrond beslaan, kan mielies en sojabone gelyk in ‘n wisselboustelsel verbou word. Die moontlikheid om wisselbou verder uit te brei, word deur huurgrond beperk. Mike huur sowat 900 ha by grondeienaars wat die mieliereste vir hul beeste wil hê. Indien dit nie die geval was nie, sou hy waarskynlik meer sojabone aangeplant het.
Die wisselbou van mielies en sojabone bied egter steeds belangrike voordele. Vir Mike gaan dit nie alleen oor die opbrengs van ’n enkele gewas nie, maar oor die langtermyngesondheid en -produktiwiteit van sy grond. Hy plant meestal DeKalb se witmieliekultivars.
Drie jaar gelede het hy sy sojabone vir Graan SA se Groei vir Goud-kompetisie begin inskryf. In 2024 het hy ‘n derde plek in die Sentraal-streek behaal met Pioneer se 71T74R-kultivar, toe hy 4 144 t/ha geoes het. Verlede jaar het Mike nóg beter gevaar en ‘n tweede én ‘n derde plek behaal met onderskeidelik Agricol se DM 61i63 RSF IPRO, met ‘n opbrengs van 6020 t/ha, en Pioneer se P64T39R, met ‘n opbrengs van 4 000 t/ha.
Mike is ‘n lid van NWK, Graan SA, die Derby Boerevereniging en die Koster Studiegroep. Die studiegroep fokus veral op gesaaides.
Oor Graan SA se onlangse beswaarskrif aan die Johannesburgse Aandelebeurs (JSE) teen die terugkeer na een verwysingspunt vir sojaboonpryse, sê hy dat hy bevoorreg is om na aan sy leweringspunte geleë te wees. Mike lewer aan NWK-silo’s in Boons, Derby en Koster. “Ek het simpatie met produsente wat ver van hul leweringspunte geleë is.”
Op die vraag wat Mike as ‘n billike sojaboonprys beskou, sê hy dit hang van seisoen tot seisoen af. “As jy 5 t/ha stroop, is R8 000 seker reg, maar in ‘n droë seisoen moet jy meer kry om die koste te kan dek.”

Uitdagings en die toekoms
Mike kan nie ‘n spesifieke aspek van sy boerdery uitsonder wat vir hom lekker is nie. “Dit is op sigself ‘n voorreg dat ek kan boer. Elke aspek is lekker. Wanneer ek by die hoenderhok instap en alles verloop glad, dan is dit lekker. Só is dit ook lekker as ek in die stroper klim en uitstekende oeste kan afhaal. Wanneer ek by die voerkraal instap en die osse is vet, dan is dit ook vir my lekker.”
Die Groei vir Goud-toekennings wat hy ontvang het, is vir Mike van sy trotsste oomblikke in die boerdery.
Volgens Mike is die moeilikste deel van boerdery beslis die onvoorspelbaarheid daarvan. “Maar ‘n mens leer om daarvoor te beplan,” sê hy.
Sy moeilikste seisoen nog was die 2015/2016-droogte. Hy het toe slegs mielies op die lande gehad, wat ‘n opbrengs van minder as 3 t/ha opgelewer het. Hy kon in dié tyd sy eie beeste deur die droogte dra en sê die belangrikste les wat hy daaruit geleer het, was om ‘n voerbank te skep om toekomstige moeilike seisoene beter te kan hanteer.
Oor die voorspelde El Niño-seisoen sê Mike dat voorspellings definitief meer akkuraat is as jare gelede. Sy raad aan ander produsente is om nie te veel te verander nie – dit is volgens hom een van die redes waarom ‘n mens kan oorleef. “Maar jy moet beslis klein aanpassings maak. Ek sal my stand aanpas en na kultivars kyk. Ek oorweeg nog die bewerkingsmetode…”
Mike bly steeds positief oor die toekoms. “Oor tien jaar sal ons nog hier wees. Dié wat vandag boer, is goed, anders sou hulle nie meer hier gewees het nie. Ek dink ons sal ‘n manier kry om te oorleef, solank ons eienaarskap oor ons grond het. Eintlik is ek opgewonde oor die toekoms van landbou, want tegnologie en genetika verbeter met rasse skrede.
“Ons vergelyk dikwels vandag se prys met die prys wat ons 20 jaar gelede gekry het, maar ons gemiddelde opbrengs is soveel hoër. Ons produseer soveel meer graan op dieselfde hektare.”
Saaigrond is skaars en duur, meen Mike.

Die gesin op die plaas
Mike en sy vrou, Chrizanne, is reeds 20 jaar getroud en is die trotse ouers van twee seuns, Gerhard en Mike. Hulle is onderskeidelik in gr 11 en gr 8 aan Koster Skool Gekombineerd. Chrizanne behartig met ‘n bekwame hand die boekhouding van hul eie boerdery, asook dié van haar pa s’n.
Volgens Mike het die seuns ook boerdery in hul DNS. Dit is nie ongewoon dat hulle tot middernag die lande sal omploeg nie.
Die seuns het ook ‘n welige groentetuin waar hulle groente, soos kool en spinasie, verbou. Die varsprodukte word in die omgewing verkoop. Dit gee die seuns nie net die geleentheid om sakgeld te verdien nie, maar ook om eerstehands te leer wat dit beteken om te plant, te versorg, te oes en uiteindelik te verhandel.
Vir Mike is boerdery uiteindelik veel meer as ‘n beroep. Dit is die plek waar hy hoort – en waar hy, ondanks die uitdagings, steeds met oortuiging vorentoe kyk.






