BESTE aandeelhouers, produsente en werknemers van NWK
Die Kersseisoen bring ons weer tot stilstand om terug te kyk ná ‘n jaar wat in ‘n oogwink verby is. Ons kan met dankbaarheid erken hoe die Here ons geseën het. 2026 was vir die grootste deel van NWK se landbougemeenskap ‘n goeie jaar — oesvolumes en marktoestande het ons in staat gestel om met hoop en vertroue vorentoe te beweeg. Ons dankbaarheid teenoor God is groot, want sonder Sy voorsiening sou ons arbeid en beplanning nie vrug gedra het nie.
Tog weet ons dat die toekoms onseker bly. Die El Niño-verskynsel bring kommer oor die seisoen waarin ons is, en herinner ons daaraan dat niks in ons eie hande is nie. As NWK en as produsente plaas ons hierdie uitdagings in God se hande, met die geloof dat Hy ons sal lei en die nodige wysheid en volharding sal gee. Ons roeping bly om goeie rentmeesters te wees van die grond en die gemeenskappe wat aan ons toevertrou is.
Ek spreek my opregte dank uit teenoor elke werknemer wat met toewyding diens gelewer het, elke produsent wat met moed en harde werk die grond bewerk het, en elke aandeelhouer wat ons visie ondersteun het. Julle is saam die fondament waarop NWK se nalatenskap rus.
Mag hierdie Kersfees vir jou en jou gesin ‘n tyd van vrede, vreugde en hernude geloof wees. Mag die nuwe jaar ons almal nader aan mekaar én aan die Here bring. Mag ons saam voortgaan om ‘n volhoubare en geseënde landbougemeenskap te bou.
Seënwense vir ‘n vreugdevolle Kersfees en ‘n voorspoedige 2027.
Groetnis
Pieter Jansen van Vuuren, voorsitter van NWK Beperk







