DAAR is sekere Afrikaanse woorde wat almal ken en gebruik, selfs al is jy nie Afrikaanssprekend nie. Dit is sommer ‘n werkwoord, byvoeglike naamwoord en kragwoord – alles in een.
- Dink aan die woord “lekker”:
- Dit gaan lekker.
- Ons eet lekker.
- En ook: Hierdie mens is nie lekker nie!
Dié woord kom oorspronklik uit Nederlands. Dit is afgelei van die werkwoord lekken (‘n ou vorm van lik) wat beteken om met die tong te proe of te lek. Die oudste betekenis was nie “heerlik” of “lekker” soos ons dit vandag gebruik nie, maar eerder “gulsig” of “lief vir lekker eet”. Later het die betekenis verskuif na “aangenaam van smaak” of “smaaklik”. Met verloop van tyd het die woord se betekenis baie wyer geword. Die woord is vandag een van die mees kenmerkende en veelsydige woorde in Afrikaans en Suid-Afrikaanse Engels.
Jare gelede tydens ‘n besoek aan Mauritius, vra ‘n plaaslike stalletjiehouer waarvandaan ons kom. Ons antwoord: “Suid-Afrika.” “Lekker Blou Bulle,” skreeu hy kliphard! Hy het dalk nie die regte rugbyspan ondersteun nie (dit is nou volgens my), maar sy entoesiasme vir Afrikaans is wel waardeer.
‘n Woord wat meer gewig dra, maar ‘n ewe groot plek in my hart het, is “landbouer”. Dit is tradisioneel ‘n persoon wat grond besit of bewerk om gewasse te verbou of met vee te boer.
As ek nou “artistieke vryheid” kan gebruik, maak ek dit “landsbouer” – diegene wat help om Suid-Afrika ‘n beter plek te maak. Ongeag of jy ‘n vreemdeling in die verkeer groet of ‘n grondpad skraap wat in ‘n haglike toestand is, jy kwalifiseer as ‘n landsbouer.
Ek is sedert 1 Oktober deel van die NWK-span en is trots daarop om te weet dat hierdie nie net ‘n maatskappy is met werknemers wat sterk in die landbou gewortel staan nie, maar ook ‘n maatskappy wat ‘n landsbouer is, wat ‘n verskil in die gemeenskap maak en al talle lewens aangeraak het.
Mag ons elke dag onthou om die verskil te wees.







