Prof Jannie Rossouw skets ’n somber prentjie van ’n regering waarvan die skuld meer as 100% van sy inkomste oorskry. Dit verbaas my nie. As joernalis het ek talle sittings van die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) bygewoon, waar jaarverslae byvoorbeeld getoon het dat staatsamptenare wat meer as ’n jaar vantevore geskors is steeds ’n salaris ontvang het.
Tenders is aan maatskappye toegeken om brood aan ’n staatshospitaal teen R18 elk (dit was in 2010) te voorsien. Jy blaai deur bateregisters waarvolgens toerusting ter waarde van miljoene rande net weg is.
Jannie is beslis iemand wat die glas halfvol sien, want hy meen Suid-Afrika is nié ’n mislukte staat nie. Ek vermoed dit is dalk omdat hy in Gauteng woon, waar openbare dienslewering weliswaar beter is as hier in Noordwes.
Raadgewers het al telkemale by dié provinsie se (geskorste) premier, prof Job Mokgoro, en sy voorgangers gepleit dat die opgradering van paaie voorkeur moet geniet omdat landbouers sukkel om hulle produkte by markte of silo’s te kry. Om nie eers van die deursnee-dorpenaar, wat met sy kleiner motor die slaggate in Lichtenburg moet aandurf, te praat nie.
Noordwes verloor jaarliks talentvolle, geskoolde jeug in alle sektore aan verstedeliking – want wie wil hom vestig en ’n gesin begin in ’n dorp wat nie eens ordentlike drinkwater kan voorsien nie? Talle fabrieke funksioneer weens die COVID-19-inperking en -pandemie tans nie eens teen hul volle kapasiteit nie. Tog kan Eskom steeds nie aan die elektrisiteitsaanvraag voldoen nie en word ons telkens aan beurtkrag onderwerp.
Met die werkloosheidsyfer op ’n verbysterende 43%, lei stygende armoede net tot al groter bevolkingsontploffings wat, aldus Jannie, ’n gulde geleentheid vir landbouers bied. Honger magies moet immers gevul word. Produsente sit dus op ’n goudmyn, of hoe? Solank hulle voedsel kan produseer teen ’n tempo wat byhou met die bevolkingsaanwas, behoort hulle al die pad bank toe te lag. Ongelukkig is landbouers egter ook nie beskerm teen ’n regering wat net ingestel is op selfverryking en die bevordering van politieke agendas nie.
’n Swakker ekonomie het immers stygende insetkoste tot gevolg. Dreigende grondonteiening sonder vergoeding, veediefstal en kwesbare plaasveiligheid laat produsente onseker en weerloos. Wie gaan boonop al hierdie voedselsoorte koop as daar nie koopkrag is nie? Gaan ons werklik, soos die Israeliete van ouds, 40 jaar lank moet trek na die beloofde land? Hoeveel kinders moes ons nie alreeds langs die pad groet toe hulle verhuis het na die Utopia wat Australië of Amerika aan hulle gebied het nie? Of erger nog: Lewendig verloor weens fisiese hongersnood of gebrekkige gesondheidsorg?
Winde van verandering wink in die vorm van ’n munisipale verkiesing wat later vanjaar moet plaasvind. Ongelukkig sal die meerderheid kruisies weer die rigting bepaal waarin Suid-Afrika se spreekwoordelike skip op pad is. Dit gaan gewis ’n sterk wind verg om dié skip weg te stuur van die fiskale afgrond waarvan Jannie praat.