Deel 5
Gewasse onttrek deurentyd voedingstowwe uit die grond om te groei. Sodoende kan die grond se voedingstatus oor tyd verswak indien die onttrekking van voedingstowwe nie gebalanseer of reggestel word nie. Een so ’n manier is korrekte, tydige en voldoende bemesting.
Die voedingstatus kan drasties verskil in lande. Dus is dit nodig om te weet wat in jou grond is voordat ’n bemestingsprogram opgestel kan word. Afhangende van die variasie wat in die grond is, word grondmonsters op elke 1 ha tot 2 ha geneem en ontleed.
Wanneer die resultate van die ontledings beskikbaar is, kan ’n bemestingsprogram vir ’n spesifieke gewas se behoeftes opgestel word. Die hoeveelheid en stadium van toediening word deur die gewas se opbrengsmikpunt vir die spesifieke seisoen bepaal.
Vir droëlandgewasse moet altyd in ag geneem word waar die kunsmisplasing plaasvind. Indien kunsmis gestrooi word en nie ingewerk word nie, speel reën ’n belangrike rol om die voedingstowwe in die grond in te loog sodat dit by die gewas se wortels kan uitkom.
Stikstof (N)
Die kenmerkende uitwerking van stikstof kan gesien word aan die groen kleur van blare en goeie vegetatiewe groei. Die plant neem die meeste stikstof in die vorm van nitraat (NO3-) op. Prosesse soos fotosintese, groei en voortplanting word ook deur stikstof bepaal, en kan grootliks vertraag word indien tekorte voorkom.
Stikstof word in aminosure in die plant ingebou, en daarom gaan ’n tekort aan stikstof die graangehalte direk beïnvloed. Tabel 1 toon dat die hoogste stikstofopname in mielies tydens die V12-groeistadium plaasvind. Daarom moet die stikstof reeds vanaf 44 dae ná opkoms vir die plant toeganklik wees.
Fosfor (P)
Fosfaat word hoofsaaklik in die vorm van oplosbare ortofosfaat (H2PO4) opgeneem. Soos met stikstof, speel fosfaat ook ’n belangrike rol by groei, fotosintese en voortplanting. Dit word veral geassosieer met wortelgroei, seldeling, blomvorming en rypwording.
Die plasing van fosfaat is egter belangrik aangesien dit min beweeg in die grond en met diffusie deur die plant opgeneem word. Indien fosfaat te ver van die plant geplaas word, kan tekorte ontstaan omdat die wortels nie by die fosfaat kon uitkom nie of nie vinnig genoeg tot by die fosfaat kon groei nie.
Aangesien fosfaat min beweeg in die grond, kan die totale fosfaatbehoefte reeds met plant toegedien word.
Kalium (K)
Kalium speel ’n rol by die vervoer van stikstof in die plant en kom in plante se selsap voor. Dit het daarom ’n groot invloed op die oop- en toemaak van huidmondjies en die tempo van fotosintese. Kalium kan ook met die stewigheid van stamme by mielies geassosieer word.
Die verwydering van kalium uit die grond by mielies deur byvoorbeeld slegs die graan te verwyder, teenoor die verwydering van die hele plant, speel ’n belangrike rol in die volgende seisoen se bemestingsaanbevelings. Vyf keer meer kalium word byvoorbeeld verwyder wanneer die hele plant verwyder word (soos wanneer kuilvoer gesny word), teenoor wanneer slegs die graan verwyder word en die land nie bewei word nie.
Ander voedingstowwe
Gewasse benut ook sekondêre voedingstowwe soos kalsium (Ca), magnesium (Mg) en swael (S), wat tot ’n mindere mate toegedien word, maar steeds belangrik is. Mikro-elemente soos boor (B), koper (CU), yster (Fe), sink (Zn), mangaan (Mn) en molibdeen (Mo) word in klein hoeveelhede benodig. Mikro-elemente word meestal afgeskeep tydens bemestingsbeplanning, maar dit kan tot groot opbrengsverliese lei indien tekorte voorkom.
Laastens speel die grondtipe ’n belangrike rol tydens bemestingsbeplanning. Dit is as gevolg van die katioon-uitruilkapasiteit (KUK), wat bepaal hoeveel van die voedingstowwe die grond kan behou en vrystel. Sandgronde se KUK is gewoonlik laer as dié van kleigrond; en sandgronde het dus meer bemesting nodig om dieselfde plantopname te kry. Daar word veral op elemente soos stikstof en swael gefokus, wat maklik loog in sandgronde. Dit moet egter in sekere gevalle nie alles gelyktydig toegedien word nie.
Samevatting
’n Gebalanseerde bemestingsprogram, wat die korrekte hoeveelheid en die posisie van plasing tydig aanspreek, is meer werd as dubbel die hoeveelheid kunsmis wat nie opneembaar is nie of te laat toegedien is. Dit is waarom die bemestingsbeplanning vir elke individuele land uiters belangrik is en die vooraf-grondontledings van elke land afsonderlik as vertrekpunt onontbeerlik is.
Bronnelys
- Labuschagne A, 2015. Bemesting van mielies. https://www.grainsa.co.za/bemesting-van-mielies [15 Januarie 2021]