Die sêding “Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde” het nog altyd met my kop gesmokkel. Dis immers so ’n teenstrydigheid dat dit mos nie waar kan wees nie. As iets verander het, kan dit nie meer dieselfde wees nie. My wetenskaplike brein benodig bewyse.
Ek het egter ’n mate van begrip vir hierdie teenstrydigheid, veral wanneer ’n mens die aard van iets soos die fisiese voorkoms van water in sy vloeibare vorm as water en in sy vaste vorm as ys, versus in sy gasvorm as waterdamp of stoom, beskou. Dis dieselfde ding, maar dis tog anders.
Wanneer ’n mens in publikasies van dekades gelede rondblaai, is dit dikwels opvallend dat die landboubedryf toe met dieselfde tipe dinge gestoei het waarmee die produsent vandag ook sukkel: Die kosteknyptang, bedryfsprobleme, die politieke landskap, arbeidsprobleme, dieresiektes – noem maar op. Daar is ’n legio van hulle wat herhalend van aard is. Die produksie-omgewing mag dalk anders lyk, maar die probleme is soortgelyk.
Die Nasionale Oesskattingskomitee het in Februarie 2021 aangekondig dat ons land potensieel die grootste graanoes in die geskiedenis kan produseer. Ons neem met groot dankbaarheid hiervan kennis en kan die land se produsente vereer vir die bydrae wat hulle lewer om voedselsekerheid te waarborg.
Die buitengewone hoë styging in die brandstofpryse aan die begin van Maart vanjaar val op die vooraand van die oesseisoen maar sleg op die oor. Die verdagte geval van Slenkdaldalkoors in die Vrystaat is intussen negatief bewys. ’n Positiewe geval van Afrika-varkgriep is in die Wes-Kaap aangemeld. Graanpryse is oor die algemeen op besondere gunstige vlakke. ’n Nuwe bedeling met die minimum loonvlakke in die landboubedryf het op 1 Maart aangebreek. Die inperkingsmaatreëls is intussen ook aangepas na ’n laer vlak.
Bogenoemde gebeurtenisse kan in isolasie gesien moontlik uniek lyk, maar in kombinasie is dit maar net ’n nuwe stel spelreëls wat die landboubedryf moet hanteer. Die individuele gevalle is dalk nuut, maar die uitdaging wat dit vir die landboubedryf stel, is presies dieselfde as wat dit dekades gelede was. Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Gelukkig kan ons boere ’n plan maak. Ons laat ons nie onderkry nie, en met die krag van Bo kan ons in dankbaarheid oor al ons seëninge rustig voortboer.