Die hoë voorkoms van plaasaanvalle het die meeste produsente en hul lewensmaats genoop om vuurwapens aan te skaf. Wanneer dit egter roekeloos aangewend word om jouself en jou geliefdes te beskerm, kan dit tot ernstige kriminele klagtes lei, wat jou ’n boete of selfs tronkstraf op die hals kan haal. Jy kan boonop onbevoeg verklaar word om ooit weer ’n vuurwapen te besit.
Arena het meer hieroor gaan uitvind by Hans-Jurie Moolman, ’n prokureur en direkteur van Pienaar en Moolman Ingelyf in Potchefstroom.
Wat sê die wet?
ARTIKEL 49 VAN DIE STRAFPROSESWET (WET 51 VAN 1977)
Indien jy ’n aanvaller noodlottig wond, is die prosedure dat ’n geregtelike doodsondersoek gedoen word. Ondersoekbeamptes sal dan bogenoemde wet as maatstaf gebruik om die saak te ondersoek.
Die relevante deel van die Strafproseswet lees soos volg:
(2) Indien ’n arresteerder poog om ’n verdagte in hegtenis te neem en die verdagte hom of haar teen die poging verset of vlug, of hom of haar teen die poging verset en vlug wanneer dit duidelik is dat ’n poging aangewend word om hom of haar in hegtenis te neem, en die verdagte nie sonder die aanwending van geweld in hegtenis geneem kan word nie, kan die arresteerder, ten einde die inhegtenisneming uit te voer, die geweld gebruik wat redelikerwys nodig en proporsioneel in die omstandighede is om die verset te bowe te kom of om die verdagte te verhinder om te vlug, maar, bykomstig by die vereiste dat die geweld redelikerwys nodig en proporsioneel in die omstandighede moet wees, mag die arresteerder dodelike geweld slegs gebruik indien:
- Die verdagte ’n bedreiging van ernstige geweld teenoor die arresteerder of ’n ander persoon inhou.
- Die arresteerder op redelike gronde vermoed dat die verdagte ’n misdryf gepleeg het wat die toediening of dreigende toediening van ernstige liggaamlike besering behels het en daar geen ander redelike manier is waarop die inhegtenisneming uitgevoer kan word nie.
Beide die polisie en private individue het kragtens die Strafproseswet magte om ’n arrestasie uit te voer, hoewel hierdie magte verskil. Die vereistes vir die gebruik van dodelike geweld word in die onderstreepte gedeelte omskryf. Vir enige ander aanval wat buite die bestek van bogenoemde omskrewe omstandighede val, waarin dodelike geweld gebruik mag word, moet enige geweld wat gebruik word om ’n aanval af te weer proporsioneel tot die omstandighede wees. Hiervoor word normaalweg drie vrae gevra:
- Was jou optrede noodsaaklik om die belang wat bedreig word, te beskerm?
- Was die optrede gerig teen die aanvaller?
- Was daar ’n redelike balans of verhouding tussen die optrede en die bedreiging van die aanval?
DIS NIE SWART OF WIT NIE
“Die wisselende omstandighede maak dit moeilik om een stel optrede vir alle omstandighede te verabsoluteer en op grond daarvan mense gerus te stel dat hulle gevrywaar is van vervolging.
“Dit word verder bemoeilik deur die feit dat mense se opvattings verskil en dat dit ’n bepaalde invloed mag hê op hoe hulle in uiterste omstandighede reageer.
“Een persoon sal redeneer dat jy geregtig is om iemand wat jy in die nag in jou huis aantref voor die voet te skiet, terwyl ’n ander persoon sal meen dat die reg om te skiet ’n laaste uitweg is en slegs gebruik mag word wanneer dit duidelik is dat die aanvaller, soos vereis in die Strafproseswet, ’n direkte aanval loods en die aanval gepaardgaan met ernstige geweld. Die toets wat deur die howe toegepas sal word, is ’n objektiewe een van wat ’n redelike persoon in die spesifieke omstandighede sou doen en nie subjektiewe oordeel nie,” het Hans-Jurie verduidelik.
Belangrike faktore om te oorweeg
Die volgende faktore word gewoonlik oorweeg wanneer besluit moet word of ’n persoon se optrede redelik was of nie:
- Tyd van die dag en/of nag.
- Plek van bedreiging, byvoorbeeld ’n openbare plek of ’n private perseel of woning; tesame met die magtiging om op die perseel te wees al dan nie.
- Teenwoordigheid van ’n vuurwapen, ander wapen of instrument in besit van die verdagte ten tye van ’n konfrontasie, wat ernstige leed kan veroorsaak.
- Die optrede van die verdagte ten tye van die konfrontasie – konfronteer die verdagte die slagoffer of ander persone fisies, en is die leed wat dit moontlik kan inhou ernstig of vlug die verdagte?
- Is ander persone reeds aangeval of is hulle in die proses om aangeval te word?
- Bewese vorige dreigemente van ernstige leed of vorige gewelddadige optrede deur ’n bekende persoon.
- Die fisiese voorkoms en vermoë van ’n verdagte, en die bedreiging wat dit vir ’n swakker persoon kan inhou. Die keersy word egter ook oorweeg: Die fisiese voorkoms en onvermoë van ’n kleiner of swakker persoon om ’n bedreiging vir ’n slagoffer in te hou.
- ’n Verdagte wat reeds ’n skoot met ’n vuurwapen afgevuur het.
- Weiering van ’n gewapende verdagte om ’n aanval of die nadering van ’n slagoffer te staak, nadat ’n waarskuwingskoot deur die slagoffer met ’n vuurwapen afgevuur was.
- Daar reeds bestaande en bewese gewelddadige toegang tot ’n private eiendom of woning verkry is.
- Vorige sindikaat-optrede in ’n omgewing waar slagoffers reeds ernstige leed aangedoen is, of waar slagoffers vermoor is en goeie rede bestaan dat dieselfde verdagtes weer toegeslaan het.
“Dit is belangrik om voorbereid te wees, en om met vooraf kennis en oefening reg te kan reageer wanneer hierdie moeilike oorwegings oor jou pad kom. Ken jou regte en weet hoe en waar om ’n vuurwapen te hanteer.
“Die doel is om so ná as moontlik aan omstandighede te kom waar jy amper instinktief in staat is om reg op te tree. Die kern van weerbaarheid is om in reeds bekende en gevaarlike omstandighede gedissiplineerd, doeltreffend en wettig te kan optree om jou en jou geliefdes te beskerm,” het Hans-Jurie bygevoeg.
MOET EK EERS ’N WAARSKUWINGSKOOT SKIET?
Dit word nie deur die wet vereis nie, maar indien daar ’n geleentheid is om ’n moontlike aanvaller voortydig te waarsku, sal dit na die tyd op redelike optrede dui. Indien die aanvaller ná ’n waarskuwingskoot steeds ’n slagoffer aanval, behoort dit die verdere optrede van die aanvaller, in weerwil van die bedreiging van ’n vuurwapen aan die kant van die slagoffer, binne die bestek van die bedreiging soos omskryf in artikel 49 te kan bring.
Ná die skoot afgevuur is
AS IEMAND GEWOND IS
Ontbied die nooddienste so gou moontlik, asook die polisie. Wanneer jy laasgenoemde skakel, lig hulle in dat die verdagte gewond is en mediese behandeling mag benodig.
“Dit sou die redelike optrede wees van enige slagoffer van ’n misdaad en/of ’n persoon wat bang is vir verdere bedreigings en/of aanvalle.
“Die hulp van ’n behoorlike PSIRA-geregistreerde sekuriteitsmaatskappy kan ook van groot waarde wees as ’n aanmeldingspunt en om ander noodoptrede te aktiveer.
“Indien jy vermoed dat daar ’n verdere bedreiging bestaan, is kontak met jou aangrensende bure of buurtwag die beste opsie omdat hulle dikwels in staat is om vinniger as die polisie of sekuriteitsmaatskappye te reageer. Dit beklemtoon ook die noodsaaklikheid daarvan om by gemeenskapveiligheidstrukture in te skakel,” het Hans-Jurie verduidelik.
MAG EK ’N PROKUREUR KONTAK?
Selfoonrekords word uitmekaar getrek in ’n hof. Beskuldigdes in sake van strafbare manslag het al dikwels in die hof onder skoot gekom omdat dié rekords toon dat hulle eerste ’n prokureur gekontak het, nog voordat hulle die polisie of nooddienste ontbied het.
Sodra jy die polisie en nooddienste ontbied het, mag jy wel ’n prokureur kontak. “Jy sal altyd geregtig wees om jou prokureur te kontak. Die polisie sal die saak ondersoek en op grond van die inligting wat bekom is, sal die staatsaanklaer, indien daar enige veroordelingswaardige optrede was wat op ’n misdryf neerkom, besluit om te vervolg of waar optrede in die omstandighede geregverdig was, weier om te vervolg. Indien die staatsaanklaer wel besluit om te vervolg, is dit noodsaaklik dat enige reaksie op enige optrede van die polisie daarna met behoorlike regsverteenwoordiging sal geskied,” verduidelik hy.
MOET MEDIESE HULP AAN ’N GEWONDE AANVALLER VERLEEN WORD?
Die plig om hulp aan gewondes te verleen, sal geskoei wees op jou vermoë om ’n verskil te maak. “Ek dink ’n mediese dokter sal vir seker in sulke omstandighede verplig kan word om hulp te verleen. Vir ’n gewone persoon, is ek van mening dat die dringende verkryging van bevoegde en professionele hulp, asook ’n rekord van pogings daartoe, van belang mag wees.
“Uiteraard sal jy nie verplig wees om hulp te verleen indien die gewonde aanvaller steeds op een of ander wyse ’n bedreiging inhou indien jy nader aan hom of haar kom nie.”
DIE VERWYDERING VAN MOONTLIKE BEWYSSTUKKE
In ’n hewige geveg met misdadigers, kan jy moontlik vuil wees en jou klere selfs bloedbevlek. Jy sal so gou moontlik van dié klere ontslae wil raak, maar jy kan moontlike belangrike bewysstukke versteur of kontamineer.
“Indien jou optrede bona fide (met eerlike bedoelings) was en regtens geregverdig is, sou ek nie aanbeveel dat daar met getuies en bewysstukke gepeuter word nie en dat jy toelaat dat die ondersoek afgehandel word. Die veiligste opsie is om die polisiebeampte wat beheer neem van ’n toneel, se toestemming te verkry. Wanneer jy uit selfverdediging geregverdig optree, behoort daar nie met bewysstukke gepeuter te word nie, want dit kan ook later jou onskuld help bewys.”
WAT MAAK EK MET DIE WAPEN NA DIE TYD?
Die wapen sal waarskynlik as deel van die ondersoek gekonfiskeer word vir ballistiese toetse. Indien nie, sal jy steeds beheer hê oor die vuurwapen, soos regtens vereis word van enige persoon wat ’n vuurwapen wettiglik besit.