Die COVID-19-pandemie het produsente se boerderybedrywighede vir altyd verander. Dit is egter nie net negatief nie en het baie geleenthede geskep, sê Rossouw Cillie, 2013 se Landbouskrywers SA se Boer van die Jaar.
Rossouw het Donderdag (7 April 2021) ‘n aanlyn-webinaar van Landbouskrywers SA, met die tema “‘n Boer maak ‘n plan”, toegespreek.
Gesondheidskenners van Agility Health en ‘n kliniese sielkundige het ook intekenaars toegespreek oor die psigiese uitdagings wat COVID teweeg gebring het en hoe hulle moontlike toekomstige vlae beter kan hanteer.
Streng beheer
Rossouw boer met vrugte en groente by Ceres. Alani Janeke, nuusredakteur van Landbouweekblad wat die webinaar gelei het, het hom gevra watter planne hy moes maak om tydens die strenger aanvanklike inperking te kon aanhou werk. “COVID was vinnig op ons en ek moes vinnig sekere dissiplines en prosedures in plek stel,” het hy verduidelik.
Hy het tot 1 000 permanente werkers op sy onderskeie plase en 200 seisoenale werkers. Daar is besluit dat laasgenoemde, wat in nabygeleë dorpe tuisgegaan het, se kontak met permanente bewoners van die plase beperk moes wees.
“Ons werk met kos, so ons moes streng toegangsbeheer in plek stel. Die plaaswerkers was bang om die plase te verlaat, so ons moes binne enkele dae ‘n winkel vestig waar hulle basiese benodigdhede kon bekom en ander basiese dienste na hulle bring,” het Rossouw bygevoeg.
Hulp aan behoeftiges
Die pandemie en gevolglike inperking het aan Rossouw die geleentheid gebied om voedselhulp aan behoeftiges te voorsien. Vrugte- en groentereste wat gewoonlik aan skape en ander diere gevoer is, is in bokse gepak waarna Agri SA dit onder behoeftiges versprei het. “Daar is verlede jaar 20 000 bokse versprei. Ons het ook sopkombuise gevestig wat steeds kos voorsien.”
Rossouw het bygevoeg dat, omdat mense bang was om hulle huise te verlaat om kos te gaan koop, hulle basiese proteïenbronne soos boontjies en soja, asook sout en suiker by die bokse gevoeg het.
Hy sê die grootste les wat hy uit die pandemie geleer het, is dat die mens nie werklik in beheer is nie en dat ons natuurlike hulpbronne met ‘n groter verantwoordelikheid moet bestuur om dit in ‘n beter toestand aan ons kinders te kan nalaat.
Die trauma van COVID
Dr Hermann Liebenberg, ‘n kliniese sielkundige, sê daar was ongetwyfeld ‘n toename in die aantal mense wat hulp vir psigiatriese probleme gesoek het tydens die inperking. “Dit het hulle heeltemal ontnugter gelaat. Hulle kon slegs deur Zoom of Skype kommunikeer en nie almal is vertroud met die tegniese aspekte daarvan nie.”
Hy sê dit het terapeute ook onkant gevang. “Ek sal byvoorbeeld nooit ‘n aanvanklik sessie aanlyn doen nie. Jy moet die pasiënt fisies sien om ‘n beeld te kan vorm. Pasiënte het ook paniekerig geraak toe hulle nie opvolgsessies kon hê nie.”
Paranoia het toegeneem onder sekere pasiënte omdat hulle geglo het dat wat ook al hulle aan sou raak, hulle kon siek maak.
Hy het bygevoeg dat diegene met onopgeloste trauma meer geneig was om afwykings te ontwikkel.
Hermann het gesê dat COVID-19 wel met wêreldoorloë vergelyk kan word. “Die omvang van hierdie trauma het almal geraak. Nie ‘n enkele persoon was onaangeraak nie. Ons moes tegnieke ontwikkel sodat mense hulself op psigologiese vlak kon onderhou.”
Hy het pasiënte aangeraai om op aktiwiteite wat hulle tuis kon beoefen, te fokus. “Die oomblik wanneer jy jou kreatief uitdruk, kalmeer dit die brein,” het hy verduidelik. Hy het hulle dus aangemoedig om nuwe stokperdjies te ontdek.
‘n Roetine is ook baie belangrik. “Die blote feit dat jy opstaan en sekere take verrig, verhoog jou gevoel van waarde.” Hy moedig mense ook aan om hulle gevoelens neer te pen.
‘N GESONDE LIGGAAM HUISVES ‘N GESONDE GEES
Dr Martie Conradie, ‘n mediese raadgewer vir Agility Health, het verduidelik dat swak voeding lei tot spanning, moegheid, hoë bloeddruk en cholesterol en jou vermoë om te kan werk laat afneem.
“Jy kan jou steeds ooreet en wangevoed wees. Dit is waarom die inname van gesonde voedsel belangrik is. Dit is eintlik ‘n bose kringloop. As jy sleg voel, eet jy sleg omdat jy nie die energie het om kos voor te berei nie.”
Die eerste 1 000 dae van ‘n kind se lewe is die belangrikste vir breinontwikkeling en daarom is goeie voeding dán van uiterse belang.
Martie sê daar word met goeie rede na COVID as ‘n “geestesgesondheidkatastrofe” verwys. “Dit het ‘n sneeubal-effek. Werksverliese lei tot spanning en sosiale media en fopnuus dryf vrees. Dit lei tot ‘n toename in middelmisbruik.”
BAIE ONSEKERHEID OOR ‘N DERDE VLAAG
“Niemand weet wanneer dit ons gaan tref nie,” sê Martie. “Hou by die maatreëls en skei mense met ‘n hoë risiko.” Hoewel dit moeilik is op plase, raai sy produsente aan om risiko’s vir diegene met onderliggende siektetoestande so ver moontlik te beperk.
“Moedig werknemers ook aan om van ondersteuningsdienste gebruik te maak. Skep ‘n veilige werksomgewing waar hulle gewaardeer voel.”
Sy het verduidelik dat COVID gedurig muteer en dat die sterkste mutasie sal toeneem. “Dit gaan ook meer voorkom tydens sekere tye van die jaar. Dit is normaal vir virusse.”
STIGMA ‘N WERKLIKHEID
Marcia le Roux, ‘n verkoopsbestuurder vir Agility Channel, het laastens benadruk dat as jy nie ondersteuning vir werknemers in plek het nie, jy meer afwesighede sal hê. “Basiese gesondheidsdienste is baie belangrik.
“Stigma is ‘n realiteit en word ‘n persoonlike en werkstressor. Doen navorsing oor die beskikbare hulpbronne waarheen jy werknemers kan verwys.”
Sy meen dat produsente verder as COVID moet kyk om werknemers se veiligheid te verseker. “Hulle werk met swaar masjinerie wat hulle ernstig kan beseer. As jy hulpmiddels byderhand het waarmee jy hulle kan stabiliseer, sal jy ‘n beter uitkoms hê.”
Alani het die verrigtinge afgesluit en opgesom: “‘n Boer maak ‘n plan en as dit COVID is, maak hy vinnig ‘n plan!”