Sommer in die eerste hoofstuk van die eerste boek van die Bybel kry die mens reeds sy aardse opdrag. Genesis 1:28: “Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die visse in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.’”
Dit volg op vers 27, waarin vertel word dat die mens (man en vrou) geskep is, en dan sluit die hoofstuk af in vers 31, waarin die Here na sy Skeppingswerk gekyk het en tevrede was dat dit goed was. In ‘n sekere sin kry ‘n mens die indruk dat die Here op hierdie punt kon terugstaan en sy Skepping met vertroue in die mens se hande laat vir die verdere versorging daarvan.
Dit bring my by die gedagte van ‘n mens se nalatenskap en die verantwoordelikhede wat met die opneem van ons “erfporsie” gepaardgaan. Die landbouer het ‘n bepaalde verantwoordelikheid om die grond en ander natuurlike hulpbronne te versorg – nie net om self ‘n lewe daaruit te maak nie, maar ook om dit wat beskikbaar is aan te wend om ‘n aardse mensdom te voed en te klee. Die mens se ware nalatenskap is nie net die suksesse wat in die werkplek behaal word nie, maar ook die impak wat die persoon op ander se lewens het.
Lynette Louw skryf in haar redakteursbrief in die tydskrif Chips (Nov./Des. 2021-uitgawe) die volgende: “Ultimately, we should ask ourselves what food security comes down to when all the definitions are stripped down to their basic meaning. In my mind, it is quite simply the ability to put food on the table every day – whether it is produced and supplied by someone else or by oneself.”
In lyn met die Bybelse opdrag aan die mens, is die landbouer se nalatenskap in wese om aan die breër mensdom die gemoedsrus te gee dat hulle genoeg kos sal hê om te eet. Dit verskuif nogal die klem op landbouproduksie vanaf bloot die wyse om net ‘n bestaan te voer na die groter prentjie van ‘n verantwoordelikheid of nalatenskap aan die mense rondom ons.
Die katoenbedryf in Suid-Afrika het ‘n aangrypende verhaal om te vertel oor die insette, bydraes en uiteindelik die nalatenskap van ‘n merkwaardige figuur wat onlangs die tuig neergelê het ná baie jare se betrokkenheid in hierdie been van ons plaaslike landboubedryf (Katoen SA, Okt. 2021).
Ek het self enkele jare gelede die voorreg gehad om vir oom Percy Macaskill te ontmoet. Hy is in Groot Marico gebore uit die huwelik van ‘n Skotse man en ‘n egte Afrikaanse boeremeisie. Hy het eers vir ‘n tandarts gestudeer, maar sy deurgronde passie het hom toe eerder na die landboubedryf gelei, waar hy die grootste gedeelte van sy loopbaan deurgebring het.
Oom Percy het ook ‘n besonderse talent vir die teken van spotprente en karikature, wat onder die skuilnaam “Perskevel” (afgelei uit Macaskill) uit sy tekenpen gekom het. Sy humorsin en spitsvondigheid sal menige een wat êrens met hom paaie gekruis het vir jare bybly. Dis egter sy bydrae as katoen-deskundige, navorser, skrywer en mentor in hierdie spesifieke bedryf wat sy nalatenskap plaaslik en internasionaal gevorm het – soveel só dat hy steeds as afgetredene gereeld genader word om raad te gee.
Oom Percy stel na my mening ‘n voorbeeld vir ons deur wie hy as mens is en hy bou verder daarop voort deur die impak wat hy op ander mense se lewens het. Ek kon ongelukkig net enkele ure in sy teenwoordigheid deurbring, maar hy het my só beïndruk dat ek sy glimlaggende gesig vandag nog voor my sien.
Ek vra myself tereg die vraag af of ekself ook daarin kan slaag om so ‘n betekenisvolle nalatenskap te bou. Tewens, elke persoon en – in ons bedryf – enige persoon wat in die landbou betrokke is, behoort dit vir hulself af te vra. Wat gaan ons nageslagte jare van nou af van ons dink as hulle brandpunte soos aardverwarming, voedselsekuriteit, die gehalte van ons natuurlike hulpbronne en dies meer bespreek. Gaan hulle ons met hartlike erkenning onthou of kwalik neem vir die nalatenskap waarmee hulle dan te kampe het?