’n Paar wees uilkuikens is in April uit Impala Platinum-myn gered. Met die broeiseisoen in volle gang, het die span van die Owl Rescue Centre in die eerste week van April alreeds ’n dosyn kuikens binne twee dae opgeneem. Verlede jaar het hulle 43 kuikens in een dag gered.
Die Owl Rescue Centre, wat elf jaar gelede as ’n nie-winsgewende maatskappy en rehabilitasiesentrum vir alle uilsoorte in die Hartbeespoort-omgewing deur Brendan en Danelle Murray begin is, het intussen ook ander diere, wat selfs wildspesies en ’n krokodil insluit, begin rehabiliteer. Hierdie steenbokkie se “eienaar” was effens ontsteld toe die span by die pandjieswinkel opdaag om die “jong dame” te kom red.
Nadat hy oor die euwels van die aankoop en verkoop van inheemse wild ingelig is, het hy vinnig aan boord gekom met die reddingsdaad. Leanne Hezlett, ’n bokkie-kenner, by die Suid-Afrikaanse Wildrehabilitasiesentrum maak haar nou groot, waarna sy weer vrygelaat sal word om die natuur te geniet.
Aan die einde van Maart het Brendan op dié hond afgekom met doringdraad om sy nek. Nadat hy die nodige veeartsbehandeling ontvang het, het Boswell by sy nuwe liefdevolle huis ingeskakel – dié van sy
redders, die Murrays!
Aasvoëls uit Noordwes sterk goed aan
’n Vrywillger vir VulPro, die aasvoëlbewaringsorganisasie in die Hartbeespoort-omgewing, het op hierdie getraumatiseerde aasvoël afgekom in die Lichtenburg-omgewing. Iemand het albei dié voël se vlerke aan ’n heining vasgebind! Met nadere ondersoek was dit duidelik dat die arme slagoffer vir ’n paar dae só oorleef het. Hy is nou veilig en besig om aan te sterk onder VulPro se sorg. Die VulPro-span, wat al 20 jaar besig is om die lot van aasvoëls te verbeter, is diep geskok oor hierdie wrede daad.
Dit gaan baie goed met die ander aasvoël wat ook by VulPro behandel word. Eskom het dié beseerde voël aangemeld. Ondanks sy gebreekte been, het hy reeds begin rondbeweeg en behoort hy met intensiewe laserterapie-behandeling goed te genees.
Stel jy belang om VulPro te ondersteun? Lees meer oor VulPro se wonderlike werk op hul Facebook-blad of www.vulpro.com.