NWK se eie hoenderpotjiekampioen, Dries van Tonder, se watertandresep is in Henwil se jongste resepteboek opgeneem.
Dié boek is Dinsdag, 5 Desember by ‘n glansgeleentheid by Scott’s Manor in Lichtenburg bekendgestel. Dit word deur verskeie glanspersoonlikhede bemark en opbrengste van die verkoop van die boek gaan aan liefdadigheidsorganisasies waarby hulle betrokke is en ondersteun.
Gaste kon by die boekbekendstelling skouers skuur met die TV-aanbieder en model, Minki van der Westhuizen en krieketlegende, Fanie de Villiers. Jean de Villiers, Victor Matfield, Mark Fish, Akane Simbini en Warren Brosnihan is ook by die boek betrokke.

NWK se aandeel
Henwil het NWK in April genader en gevra of hulle ‘n resep tot die boek wil bydra. NWK het dit as ‘n gulde geleentheid vir spanbou binne die maatskappy gesien en ‘n hoenderpotjiekoskompetisie onder personeel geloods.
Dit is op 19 Mei by NWK se opleidingsentrum aangebied en uitgesoekte bestuurslede van NWK, asook Sophia Breet, eienaar van Koffiehuis@NWK, het as beoordelaars opgetree.

Dries (hoof van Finansies by NWK) is as die wenner aangewys. Die beoordelaars was dit eens dat die spek wat by sy pot gevoeg is, die geheime bestanddeel is wat dit ‘n kenmerkende geur en smaak gee.

Hy moes op 27 Julie die pot weer maak in samewerking met die sjef en kosstilis, Amerae Vercueil, wat al 47 resepte in die boek gekoördineer het.

Met die uitsondering van twee nageregte, bevat al die resepte hoender. Van die glanspersoonlikhede het ook disse opgetower waarvan die resepte in die boek ingesluit is.
Of jy op soek is na idees vir ietsie oor die kole, ‘n ligte peuselhappie of ‘n ryk, vullende gereg, hierdie resepteboek sal jou kookvernuf met hoender na nuwe hoogtes neem.
Dit sal binnekort by NWK Retail Lichtenburg teen R300 (+BTW) beskikbaar wees.
