Tydens die skryf van hierdie bydrae was die oesseisoen in volle gang. Die meeste sojabone en sonneblomme was reeds gestroop en die mielie-oes was haas besig om in die silo’s te beland. Weliswaar ’n ongewone vroeë seisoen.
Uit die terugvoer wat ontvang word, is daar wyd uiteenlopende opbrengs resultate behaal met die besonderse ongemaklike produksieomstandig hede wat gedurende die afgelope somer ervaar is. Goeie opbrengste met redelike graanpryse laat etlike produsente breed glimlag.
Moontlik is dit selfs ’n sug van verligting omdat hulle steeds ’n graanoes het, terwyl daar soveel van hulle mede-produsente is wat uiters teleurstellende resultate behaal het. Soveel gevalle waar die droogte en hitte net een te veel was vir die gewasse. Weinig pitte is bestuif en gevul. Die koppies is maar treurig. In sommige gevalle hoor ’n mens van lande wat eenvoudig ingesny is, waar die beeste ingejaag is of waar die oes so klein is dat dit nie ’n stro per regverdig nie en daar soos van ouds weer met die hand geoes word.
Enige persoon wat iets van die landboubedryf weet, kan nie anders as om met gevoelvolle deernis die hartseer, frustrasie en moedeloosheid van die produsent met só mislukte oes te verstaan nie. Nuwe planne is nodig vir die komende seisoen – soms planne wat onmoontlik en onuitvoerbaar lyk – maar ons weet ook dat ’n boer altyd ’n plan het!
Ek blaai onlangs weer deur ’n vorige uitgawe van ’n reistydskrif (Weg, Junie/Julie 2022) en kom af op ’n artikel deur Willem van der Berg met die titel “As wolke terugkeer”. Die storie wat vertel word, gaan oor die lentereëns van 2021 wat die dorre droogtegeteisterde Boesmanland in die Noord-Kaap met ’n uitbundige hoeveelheid lewegewende water geseën het. Mens en dier was aan’t jubel oor hierdie uitkoms.
Dan kom die sielvolle vertellings van die mense van hierdie streek in die artikel treffend na vore. Hoe hulle die droogte ervaar het, watter onmoontlike planne gemaak moes word.
Willem skryf: “Toe die wolke na baie jare oor die Karoo en Boesmanland aankom, het hulle geskrik vir wat onder op die aarde aangaan. Waar troppe skape altyd geloop het, het geraamtes in die rooi kaaltes gelê. Nêrens het ’n springbok se pronk geflits nie. Die mense se koppe was na onder gedraai en het nie vir hulle gekyk nie. Dit het die wolke laat huil. Aanhoudend. Totdat waterskilpaaie en nuwe lewe uit die grond gekom het en boesmangras wit en vetterig oor die vlaktes gestol het.”
Dis veral die dankbaarheid van hierdie merkwaardige mense wat my opval in hierdie skrywe. Die reënboog se belofte – nie dat swaar tye nie weer sal kom nie of dat die wolke die pad na jou toe vir altyd gaan onthou nie. Dit is eerder ’n teken van dankbaarheid … en ’n bietjie van ’n gebed. Dat daar nog sal wees. Dat die damme weer sal oorloop en die skape sal blêr van blydskap en nie van honger nie. Dat die boere see toe kan gaan sonder om skuldig te voel en die kinders nie weer sal skrik vir druppels nie.
Boerdery is nie maklik nie. Dikwels moedeloos gaan slaap, maar dan opstaan met nuwe moed … en beter planne. Plaasmense is altyd optimisties as hulle vorentoe en boontoe kyk.