Dis jeugmaand en NWK het dit gevier deur meer as 550 pare splinternuwe skoolskoene as deel van sy jaarlikse skoolskoenprojek by twee skole in Itsoseng naby Lichtenburg uit te deel. Dit bring die getal leerlinge wat sedert dié projek se ontstaan in 2012/2013 daarby gebaat het, op meer as
6 500 te staan.
Die waarde van vanjaar se skenking beloop R243 000. Dit sluit die skoolskoene, skoenpolitoer borsels, mussies, kouse asook seilsakkies vir elke leerder in. Daar is vanjaar ook springtoue, netbal- en sokkerballe aan elke skool geskenk.
Naletsana en Tshepang Primary Schools was vanjaar se begunstigdes. Daar is verlede Vrydag 291 pakkies by Naletsana uitgedeel, waarna 263 pakkies die afgelope Donderdag by Tshepang uitgegee is.


Die skole wat skenkings ontvang, word geïdentifiseer in samewerking met Noordwes se Onderwysdepartement, asook Samuel Nkone – voormalige areabestuurder van Ditsobotla by die departement.
Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie by NWK, het Donderdag sy laaste aflewering van NWK se skoolskoenprojek meegemaak, omdat hy later vanjaar aftree.
Hy het gesê dat dié projek deur die jare by hom nederigheid en dankbaarheid gekweek het. “Dit is ‘n geskenk om te kan géé. Ek is geweldig dankbaar teenoor NWK vir die geleentheid wat dit geskep het om hierdeur ‘n verskil te kon maak. Kinders is die grootste geskenk van God en julle as onderwysers en ouers het ‘n groot taak om na hulle om te sien.”

Benedict Modise, direkteur van Ekonomiese Ontwikkeling by NWK, het Vrydag gesê dat die maatskappy kinders van laerskool- tot hoërskoolvlak ondersteun met sy skoolskoenprojek, asook die borgskap van skootrekenaars aan toppresterende matrikulante van die Ditsobotla-subdistrik.
“Ons het heelwat vakatures binne NWK en werk nou saam met universiteite om die regte arbeid te lok,” het hy gesê en ouers gevra om hulle kinders te motiveer om elke dag skool by te woon en matriek te verwerf. “Onderrig is die sleutel tot álles!”

Nosipho Khunyedi, hoof van Tshepang Primary School, het NWK bedank vir die skenking. “Ons is dankbaar dat NWK die klein gemeenskap van Sheila in Itsoseng onthou en oorweeg het vir hierdie geleentheid. Talle van die kinders se ouers is werkloos en hulle kinders kom sonder uniforms en skoene skool toe. Hier is baie maatskaplike probleme en NWK se skenking maak ‘n reuseverskil.”
Itumeleng Kgabi, hoof van Naletsana Primary School, het gesê dat NWK een van die grootste maatskappye in die provinsie is en dat die skool daarom geëerd voel om as begunstigde van die projek gekies te word. “Ons waardeer julle!”