
Sommige voerkrale trek hul neuse op vir Boran-speenkalwers omdat hulle kwansuis te vinnig vet word voordat hulle hul teikengewig bereik. Tog is ’n Boran-stoetteler van Derby besig om met sy plaasvoerkraal te bewys dat speengewig eintlik nie ’n sleutelwinsdrywer is nie.
“Jy kan jou omgewing by jou bees aanpas en dit kom in ’n sak (voer), of jy kan jou bees by die omgewing aanpas, en dit is waar aangepaste Afrika-rasse soos die Boran inkom,” verduidelik Francois Smit (58) van Fonteine Borans op die plaas Dwarsfontein.
Hy was in 2003 een van die Boran-telersgenootskap se stigterslede en nog tot verlede jaar dié organisasie se president.
Francois en sy seun, Christiaan, is verantwoordelik vir die beesvertakking van Fonteine-boerdery. Sy oudste seun, Franco, is ’n direkteur van NWK en in beheer van hulle saaikomponent, wat uit mielies, saadmielies, droëbone en sojabone bestaan.
Geteel in Afrika, vir Afrika
Francois het as ’n ouditeur gewerk toe hy en sy vrou, René, in 1996 by sy skoonpa, Isak van Zyl, op die plaas aangesluit het. Hy het aanvanklik slegs die saaiboerdery hanteer, maar moes met Isak se afsterwe in 2004 ook die vleisbeesvertakking oorvat.
Nadat daar besluit is om die melkery van 30 jaar tot niet te maak, het dit vir Francois “net sin gemaak” om met ’n inheemse ras te boer. Die Boran is van Ethiopië en Kenia in Oos-Afrika afkomstig, en die eerste Boran-embrio’s is in 1995 na Suid-Afrika ingevoer.
Isak en Francois het in 2003 hulle eerste Boran-koeie by David Green gekoop en die res van die kudde met behulp van embrio’s uit Kenia gevestig. Fonteine Borans is in dieselfde jaar as ’n stoetery geregistreer.
Borans het van die beste vleiseienskappe van al die suiwer Afrika-beesrasse, meen Francois. Die Boran se genetiese samestelling is uniek, wat hulle ideaal maak vir kruisteling. Die koeie is uitstekende moeders, met hoë vrugbaarheid en genoeg melk.
“Die Boran is ’n sprekende voorbeeld van aanpasbaarheid. Jy kry dié ras regdeur van Kenia tot hier in Suid-Afrika en dit doen vandag ook baie goed in lande soos Paraguay, waar dié diere vinnig in gewildheid toeneem,” vertel Francois.
Boonop toon hulle fantastiese weerstandigheid teen bosluisdraende siektes, wat hulle meer kostedoeltreffend en makliker maak om mee te boer.

Suid-Afrika het ’n “verwronge beesstelsel”
Tog huiwer sommige voerkrale nie om Boran-speenkalwers weg te wys nie. Francois oorweeg sy woorde versigtig: “Ons beesstelsel in Suid-Afrika is baie verwronge. ’n Voerkraal soek ’n bees wat hy 150 dae lank kan voer en wat stadig vet aansit. Vir my is ’n bees se vermoë om self ’n goeie liggaamskondisie onder moeilike omstandighede te kan handhaaf, die sleutel tot winsgewende rooivleisproduksie op plaasvlak.
“Boonop moet ek ’n koei versorg vir die volle nege maande wat sy dragtig is en haar kalf ’n verdere sewe tot agt maande voor ek dit kan bemark. Ek dra dus 16 maande lank die risiko, teenoor ’n voerkraal wat ’n dier slegs 150 dae lank voer en ’n kleinhandelaar wat slegs sewe tot 28 dae lank die risiko op sy rak dra.”
Suid-Afrika is ook die enigste land ter wêreld wat vleis op grond van die dier se tandewisseling klassifiseer, en Francois meen dit is absurd. “Ek kan kwalik ’n bees slag voor tweejarige ouderdom, wanneer dit tande wissel, as ek hom nie dieselfde tipe rantsoen en kos gee nie. Ek kan nie met ’n voerkraal op daardie skaal meeding nie.”
Hy het besef dat hy sy tyd in die waardeketting sou moes verleng en het toe self ’n voerkraal op sy plaas gevestig. “Die Boran wissel boonop eers tande op 28 maande, teenoor baie ander rasse se sowat 24 maande. Ons het dus tyd aan ons kant, wat ’n kompeterende voordeel bied.”

Die eintlike winsdrywer is kg/ha geproduseer
Die gewig van ’n volwasse bees, speengewig en individuele diereprestasie is nie kategorieë waarin die Boran met komposiete of Europese rasse kan meeding nie. Hieraan steur Francois hom egter min. “Die kilogram per hektaar geproduseer is die grootste winsdrywer, wat grootliks deur die veldbelading bepaal word. Hoeveel beeste kan ek sinvol en volhoubaar op my plaas aanhou? Dis verreweg die belangrikste.”
Hy voeg by dat die meting van die individuele diereprestasie ’n nuttelose oefening is, omdat dit noodwendig verbeter as die produsent sy getalle verminder. “Hoewel die individuele diereprestasie verlaag met die vermeerdering van getalle, verhoog die kilogram per hektaar.”
Die Intelact-beesvleisstudiegroep is in Hilton, KwaZulu-Natal, gesetel en ondersoek faktore soos die lek- en onderhoudskoste, uitgawes aan veemedisyne en koste per teelkoei. Die Boran het in hierdie studie telkens as toppresteerder of in die top twee in die onderskeie kategorieë uitgeblink. Só was die Boran se direkte koste 35% minder as dié van die groepgemiddelde, wat volgens Intelact dui op dié ras se uitstekende veerkragtigheid en uitsonderlike prestasie met minimale insette.
Francois beaam dat dit ’n hoogs aanpasbare bees in ’n ekstensiewe stelsel is. Hy kon dit regkry om die drakrag van sy veld van 3 ha/GVE na 1 ha/GVE te verlaag deur sy kudde in ’n kleinkampstelsel te bestuur.
Die diere word in die somer elke vier dae verskuif. Genoegsame groei vind binne vier tot ses weke plaas sodat die betrokke stuk kamp weer bewei kan word. Jaarlange speenkalwers beoefen drukbeweiding waartydens hulle een keer per dag verskuif word. Die Boran is ’n nie-selektiewe vreter, met ’n sterk kudde-instink wat die drakrag verder verhoog.
Hawer onder besproeiing vir die winter word ná die somer vir die speenkalwers aangeplant en die behoefte aan ’n duur produksielek word uitgeskakel.
“Die meeste beesboere is oortuig dat ’n koei-kalfstelsel die winsgewendste is. Die gemiddelde speengewig van bulkalwers is ongeveer 200 kg. As 80% van my koeie ’n kalf speen, speen ek in wese net 160 kg per koei in die kudde. Die bulkalf wat ons terughou, hoef in die volgende jaar dan net met 160 kg te groei om dieselfde as ’n koei in die kudde te lewer, en ons kry dit maklik reg. Daardie kalf het ’n baie laer kostestruktuur en lewer ook 160 kg tot 180 kg in die volgende jaar.
“Skielik kan ek baie meer beeste op my plaas aanhou, want ek het nie ’n koei van 450 kg om te onderhou nie, maar ’n bulkalf van 200 kg. Indien sy gewig daardie jaar met 180 kg toeneem, het ek steeds net ’n gemiddelde raamgrootte van 290 kg om te onderhou.”
Hierna word die bulkalf vir 45 tot 60 dae in die voerkraal afgerond en word ’n karkas van tussen 220 kg en 240 kg uitgeslag. Die jaarlange speenkalwers is goed aangepas vir die kraal, met bykans geen vrektes nie.
Dit is ook hoekom die speengewig ’n geringe invloed op Francois se winsgewendheid het. “Boere wat vir ’n voerkraal lewer, mik vir ’n swaarder speenkalf, terwyl ek voordeel put uit groei ná speen.
“Beeste is baie meer dieselfde oor al die rasse heen as wat mense wil gelyk gee. Ná al die jare se noukeurige wetenskaplike teling en seleksie, sit ons steeds met ’n koei wat net een keer per jaar kan kalf. Lae onderhoudskoste, wat met goeie konstitusie, ’n kleiner raamgrootte en goeie aanpasbaarheid gekorreleer is, bepaal tot ’n groot mate jou wins.”
Bevraagteken álles
Francois is onlangs gevra om landboustudente van die Noordwes-Universiteit oor sy buitengewone benadering tot beesboerdery toe te spreek.
“Ek het hulle aangespoor om hulle dosente te bevraagteken. Hulle (die dosente) is meestal reg, maar studente moet daaroor dink en redeneer. Ons is vasgevang in ’n rigiede stelsel waarin die wins op plaasvlak voortdurend onder druk bly.”
Hy glimlag en sê hy het al baie van sy bure “bekeer”, en dat hulle nou ook Boran-bulle in hul beesvertakkings inspan. Heelwat klante van hulle produksieveilings implementeer ook toenemend ’n soortgelyke stelsel op hul plase.
“Daar is ’n persepsie daar buite – reg of verkeerd – dat heelwat van die wins in die rooivleisbedryf, veral in ’n koei-kalfstelsel, eers ná die plaashek gemaak word. Hierdie stelsel bied egter ’n alternatief met min moeite.”
Hy moedig ander produsente aan wat hiermee wil eksperimenteer om klein te begin deur nie-dragtige koeie uit te skot en 20% van die bulkalwers vir ’n jaar te hou en daardie getal stelselmatig te vermeerder. “Ons was gelukkig genoeg om dit in goeie graanjare te kon doen. Dit het ’n enorme impak op ons winsgewendheid gehad.”
Oesreste word deur die Smitte se veekomponent bewei om die optimale benutting van alle hulpbronne te verseker en terselfdertyd koolstof in die grond te verhoog deur reste meer doeltreffend af te breek.
Francois sê beeste is ’n onontbeerlike komponent van regeneratiewe landbou. “Jy kan nie dekgewasse plant as ’n bees dit nie gaan benut nie. Dis net nie volhoubaar nie en te duur. ’n Bees help om daardie kostekomponent in geld te omskep.”
Die Fonteine-boerdery behoort aan ’n studiegroep waarvan Michael van Rooyen, bestuurder van Adviesdienste by NWK Finansiering, die leier is, en Francois beskryf dit as van onskatbare waarde. “Die winsgewendheid van elke vertakking word sorgvuldig ontleed en as boere dit doen, sal hulle waarskynlik gouer eerder as later veranderinge aan hul beesvertakkings aanbring.
“As jy by ’n braaivleis-en-brandewyn studiegroep is, kan jy dit eerder los. Ons moet ons stemme iewers laat hoor, maar ons kan nie ernstig opgeneem word sonder syfers nie.”

Die krag van ’n familieboerdery lê in eenheid
Francois het ’n derde seun, Van Zyl, wat tans by ’n landboumaatskappy werk en ook later by die familieboerdery gaan aansluit.
Hy dink terug aan die tyd toe sy skoonpa hom op die plaas verwelkom het. “Ek het die Maandag begin boer en die Dinsdag het hy my gevat om die tekenregte op die tjekboek te verander. Daarom was dit net soveel makliker om dadelik groot verantwoordelikheid aan my eie kinders oor te dra toe hulle hier aangesluit het.”
Francois meen dat ’n familieboerdery se voortbestaan daarin lê om dit ’n eenheid te hou en nie te onderverdeel nie. “Ons moet ons kinders dwing om mekaar te vind. Ek dink die geheim lê daarin dat een van die kinders leiding moet kan neem en die ander kinders daardie leiding moet aanvaar. Iemand moet die meerdere tussen gelykes wees.
“In stede kan alles aan die mens se doen en late toegeskryf word. Kom na die plaas en plant ’n mieliepit, en jy sal sien jy kan nie veel verder doen nie. Tog groei dit en as jy daardie konsep verstaan, is ’n Godsbegrip mos maklik.
“Dis só mooi hoeveel beloftes in die Bybel vir boere gemaak is. Oor hulle veekuddes en oeste, nie oor besigheid en geld nie. Kom ons hou aan daardie beloftes vas.”





