HOE dikwels sê ons vir mekaar waar is die tyd heen? 2026 lê al amper op sy rug en daar is nog so baie wat moet gebeur. Soms moet daar iets gebeur wat jou lewe in ’n ander rigting stuur, of jou perspektief op die lewe net ’n nuwe dimensie gee. Vir my het só ’n oomblik in Julie verlede jaar tydens ’n 50-jarige universiteitskoshuis-reünie gebeur.
Jare gelede was kommunikasie gebrekkig en landlyn-telefone was die vernaamste vorm van kommunikasie. Dit was gou duidelik dat die bande net weer opgetel is waar ons mekaar 45 jaar gelede laas gesien het. Nou net heelwat ouer en wyser. Die ontmoeting was emosioneel en die naweek was te kort om al die nuus in te haal. ’n Paar van ons het toe besluit dat ’n tweede reünie vanjaar in Namibië net die regte medisyne sou wees. Só gepraat en só gemaak. In Junie het ons die lang pad na die Namib aangepak.
Die verstommendste tien dae van my lewe het aangebreek. Wat tydens dié vakansie uitgestaan het, was ons samesyn en die feit dat ons weer dinge kon doen en ervaar waarvoor ons nie tyd maak in ons gejaagde lewens nie.
Die hoogtepunt vir my was verseker die dag in die woestyn waar ons meer vertel is oor die Welwitchia-plant, wat net in die Namib-woestyn in Namibië en Angola voorkom.
Hierdie plant het ’n gemiddelde lewensduur van 500 tot 600 jaar, met groter spesies wat tot 2 000 jaar oud kan word. Terwyl ons daar staan, het ons besef hoe volmaak die Skepping is. Die natuur sal op sy tyd vat en op sy tyd gee. Ons Goddelike opdrag is om as rentmeesters op te tree, die aarde te bewerk en te bewaar.
Die tyd in Namibië was ’n ontsettende voorreg. Om in die aande om die vuur te kon sit, ’n jakkals se roep in die verte te hoor en na die hemelruim te kon kyk, verlig deur duisende sterre, was onbeskryflik.
Ek het weereens besef hoe belangrik dit is om tyd te maak vir daardie klein dingetjies in die lewe, die asemhaal-oomblikke. Maak tyd vir jou gesin, kinders en familie. Maak tyd vir koffie drink en kuier saam met ’n kosbare vriend/vriendin wat jy al só lank uitstel.
Al is tyd gratis, is dit van onskatbare waarde. Jy kan dit nooit besit nie, maar jy kan dit gratis gebruik. Jy kan dit ook nie bêre nie, maar jy kan dit gebruik. Jy kan dit spandeer, maar nie stoor vir ’n ander dag nie. As jy dit verloor het of vermors het, kan jy dit nooit weer terugkry nie, so koester dit en maak meer tyd vir dit wat saak maak.






