IN ‘n tyd waar graangehalte en doeltreffende oeshantering al hoe belangriker word, speel moderne drogingstegnologie ’n sleutelrol in die waardeketting van graanproduksie.
Die installering van gevorderde graandroërs by die Boons- en Koster-silo‘s het NWK se silo-infrastruktuur verder versterk. Volgens Jansen van Vuuren (bestuurder: Ingenieursdienste by NWK se Silodienste) stel hierdie belegging produsente in staat om graan met hoër vogvlakke te lewer, terwyl die risiko van gehalteverliese verminder word en die doeltreffendheid van graanhantering verbeter word.
Unieke ontwerp om hoë kapasiteit te hanteer
Die Alvan Blanch horisontale dubbelvloei-dubbelbeddroërs is uniek ontwerp om hoë kapasiteit te hanteer terwyl die graangehalte behoue bly. Anders as konvensionele droërs wat op swaartekrag staatmaak om graan deur ’n kolom te laat val, gebruik hierdie horisontale droërs ’n vervoerband met ’n swaargewig-ketting om graan oor twee skuins beddens te trek.
Die beddens bestaan uit oorvleuelende staal-hortjiepanele, wat groot volumes verhitte lug met minimale statiese weerstand opwaarts deur die graanbed laat beweeg. Die spesifieke hoek en spasiëring van die panele verhoed dat graan deurval, terwyl dit verseker dat kaf, stof en klein deeltjies nie die lugvloei belemmer nie.
Hierdie ontwerp stel silo-operateurs in staat om tussen verskillende gewastipes – soos koring, mielies, gars, sonneblom en selfs delikate peulgewasse – te wissel sonder dat die strukturele bedplate verander hoef te word.
Die verwerking van “rou” graan, direk vanaf die land, bring groot hoeveelhede onsuiwerhede saam, soos strooi, kaf, leë pitte, kleiner onkruidsade en stof. Dit is noodsaaklik om met skoon graan te werk om die maksimum nominale kapasiteit en termiese doeltreffendheid van ’n droër te bereik.
Die Alvan Blanch-droër het hierdie funksie geïntegreer, waar graan van een bed na die ander val. Die skoonmaak van graan verbeter die droër se prestasie ten opsigte van ’n vermindering in energieverbruik, verbeterde lugvloei, die voorkoming van stof-opeenhoping, wat ook brande kan veroorsaak, en laat uitlaatlugstelsels vry van swaar neerslae.
Hierdie droër het ook ’n geïntegreerde natuurlike aspirasiestelsel by die punt waar die graan tussen die droërbeddings oorgaan. Dit verwyder outomaties ligter materiaal soos kaf, stof, strooi en fyn onsuiwerhede uit die graanstroom tydens die droogproses, wat die behoefte aan uitgebreide voorafskoonmaak verminder.
Hierdie geïntegreerde skoonmaakaksie help om doeltreffende lugvloei te handhaaf, die ophoping van stof te beperk en veilige, betroubare droërwerking te ondersteun. Die droër kan dus graan direk vanaf die land doeltreffend hanteer sonder dat dit vooraf volledig skoongemaak moet word, terwyl hoë kapasiteit en droogdoeltreffendheid gehandhaaf word.
Belangrikste voordele
Die belangrikste voordele van dié droër vir NWK se silo‘s is:
- Hoër hanteringskapasiteit
- Kontinuïteit
- Laer operasionele hoogte in vergelyking met tradisionele vertikale kolomdroërs
- Presisievogbeheer
Ander voordele is dat dié droërs ’n impak op installasiekoste het. Dit beperk die oordroging van graan, wat die verkoopbare gewig verminder, en beperk ook die vermorsing van brandstof. Laastens beperk dit onderdroging, wat tot bederf in die silo kan lei.

Die graandrogingsproses kan maklik vergelyk word met beskuit wat gedroog word. Te nat beskuit beteken ’n verkorte raklewe, en beskuit wat te droog is, is eenvoudig net nie lekker nie en sal nie ’n topverkoper wees nie.
SPOEDBEHEER
Die dubbelvloeistelsel beskik oor uiters responsiewe spoedbeheer. Operateurs kan die vervoer-
bandspoed aanpas om die tyd wat graan in die droër spandeer presies te bestuur, sodat dit by die vereiste vogonttrekkingsprofiel pas.
Graansilo‘s vereis ’n hoë deurset, lae energievoetspore, en groter gewasbuigsaamheid. Daarom staan die Alvan Blanch horisontale dubbelvloeidroër uit as ’n uiters betroubare bate, wat sagte
meganiese hantering, geïntegreerde skoonmaak en meerstadium-termodinamiese lugvloei kombineer. Só word verseker dat graan langtermyn-siloberging met ’n optimale voginhoud, die beste gehalte en hoë markwaarde binnegaan.






