Produsente staan dikwels voor die vraag of dit raadsaam is om van die bestaande lande na aangeplante weiding om te skakel en dit dan met beeste te benut. Hierdie
omskakeling moet baie goed beplan word en met die regte weidings aangeplant word om deur die jaar vir die diere kos te gee.
Net so is ‘n goeie ontleding nodig om te besluit of speenkalwers self verder uitgegroei kan word. ‘n Deeglike voervloeiprogram en kuddevloei moet ontleed word om die lewensvatbaarheid daarvan te bepaal.
Vier graanproduksie-scenario‘s is ontleed om werkbare alternatiewe voor te stel vir graanprodusente wat met die winsgewendheid van graanproduksie worstel. Een scenario, waar 50% van die beskikbare akkerbougrond oor die verloop van vyf jaar na meerjarige aangeplante weidings omgeskakel word (die 50/50-stelsel), het as ’n belowende en winsgewende alternatief uitgestaan.
Ná jaar vyf in die 50/50-stelsel is die helfte van die lande onder meerjarige aangeplante weidings gevestig. In jaar ses word een tiende van die weiding, met ander woorde, die weiding wat in jaar een aangeplant is, weer na ’n kontantgewas omgeskakel. Voortaan is 50% van die lande onder ’n kontantgewas en 50% onder aangeplante weiding. Elke jaar word een tiende na ’n kontantgewas omgeskakel en ’n ander tiende na ’n kontantgewas teruggeskakel. Die vloei word in Tabel 1 uitgebeeld.

Die winsgewendheid is bereken op grond van die gewigstoename per kalf (verskil tussen speen- en eindgewig ná veldvoorbereiding) en die oorsprong van die kalf is buite rekening gelaat. Daar was dus nie noodwendig ’n eie kudde waaruit speenkalwers voorsien kon word nie – die kalwers kon ook aangekoop wees. Die scenario van ’n eie kudde met eie aanteel word nou verder ondersoek vanuit die oogpunt van die voer- en kuddevloei van só ’n stelsel.

Veldvoorbereiding (backgrounding)
Die speenkalwers word op die veld voorberei. Hulle word van speen (minstens 220 kg) tot ongeveer 300 kg lewende gewig op aangeplante weiding plus byvoeding geneem en as swaarder speenkalwers bemark, of verder gevoer om ’n markklaar dier te produseer. Indien die diere markklaar gemaak word, sal hulle in die voerkraal of op die weiding ekstra kos moet kry.
’n Veldvoorbereidingsaanvulling wat sowat 25% van die kalwers se behoefte aan droëmateriaal (DM) uitmaak, bevat sowat 50% graan. ’n Kalf benodig dan sowat 80 kg mielies oor 95 dae om vanaf 220 kg speengewig tot 300 kg te groei. Die gemiddelde daaglikse toename (GDT) oor dié tydperk is 842 g (Tabel 2). Die graan in hierdie rantsoene kan bes moontlik uit eie graan voorsien word.

Waardetoevoeging by kalwers
Om eie kalwers vir bogenoemde stelsel te voorsien, behoort die herfskalfseisoen goed te werk. Die herfskalfkoeie kalf voor die winter en omdat daar graan geproduseer word, behoort daar oesreste vir beweiding te wees. Hierdie oesreste kan dan deur die koeie gebruik word om kalwers te produseer wat in die lente gespeen word. Die koeie gaan dan terug veld toe en in plaas daarvan om speenkalwers te verkoop, gaan hierdie kalwers die bemeste aangeplante weiding benut.
Indien die produsent se kudde in ’n lentekalfseisoen is, word die kalwers in die herfs gespeen. Indien hierdie kalwers gedra moet word om op die bemeste weiding ekstra groei aan te sit, moet daar bykomende kos aan hulle voorsien word as die plaas reeds op kapasiteit is. Dit sal beteken dat die produsent dalk sy koeikudde moet verklein of ekstra voer moet bekom of aanplant, bloot omdat daar meer diere op die plaas gaan wees.
Hoe kan dit gedoen word? Daar moet ’n volledige kuddevloei en voervloei opgestel word om te bepaal hoeveel vee gedra kan word.
VOORBEELD
Die volgende voorbeeld kan gebruik word om te sien of die stelsel kan werk. Daar word aanvaar dat die plaas uit 200 ha veldweiding en 500 ha lande bestaan. Die lande word aangewend om 250 ha graan te produseer, en daar word 50 ha oulandsgras en 200 ha Smutsvingergras gevestig. Die veldweiding produseer 1,8 ton DM/ha en die aangeplante weiding produseer 3,6 ton DM/ha.
Die koeikudde bestaan uit 160 volwasse koeie en 40 eerstekalfkoeie. Verder word daar 48 vervangingsverse aangehou. In totaal word 166 kalwers in die laatwinter en lente gebore. Daar is dus byna 110 kalwers in totaal wat aangewend kan word om die weiding te benut. Hierdie kalwers word in April gespeen, maar in plaas daarvan om hulle te verkoop, word die kalwers gehou om die aangeplante weiding vanaf September te benut. Dit beteken dat daar voorsiening vir ’n addisionele vyf maande se voer gemaak moet word voordat hulle op die bemeste aangeplante weiding kan gaan.
In hierdie voorbeeld benodig die plaas ongeveer 1 700 ton DM om in die diere se voedingsbehoeftes te voorsien. ’n Grootvee-eenheid benodig ongeveer 12 kg DM/dag (vermorsing ingesluit). Om die verwagte produksie van die plaas te bereken, is dit belangrik om die gewasse en veld se groeikurwes te verstaan. Vir elke gewas is daar ’n berekende groeikurwe. In Tabel 3 word die groeikurwes van oulandsgras, deurwasde oulandsgras, Smutsvingergras en veld aangetoon.

(somerveld en geruste veld).
Die deurwasde oulandsgras verdien ’n bietjie meer aandag. Die produksie per hektaar is presies dieselfde as gewone oulandsgras, maar die laaste 30% van die jaar se produksie word nie benut nie. Dit word na die volgende jaar oorgedra. Sodra die oulandsgras bot, word die vee ingejaag en dan vreet hulle die ou gras saam met die groen hergroei van die nuwe seisoen. Sodoende word beter benutting van die gras verkry en het die diere genoeg kos van goeie gehalte om te vreet.
Weidingsbestuur
Gegewe hierdie produksiekurwes en -opbrengste, kan die denkbeeldige plaas 1 900 ton DM produseer. Hoe kan die weidings aangewend word om hierdie vee van voer te voorsien? Om die vraag te beantwoord, word ’n voer- en kuddevloeiprogram gebruik wat beide verbruik bereken en produksie aantoon. In Tabel 4 word die aanwending van die voerbronne voorgestel.

Tabel 4 dui die toedelingspersentasie van die onderskeie voerbronne in die voervloei aan. ’n Gedeelte van die aangeplante weiding is met oulandsgras gevestig omdat oulandsgras vroeër in die seisoen bot, wat beteken dat dit dus gouer groen deurwasde weiding bied en só die somerseisoen verleng. Die voervloei sal uiteraard van plaas tot plaas verskil, en sal dienooreenkomstig aangepas en beplan moet word.
In Grafiek 1 word die beskikbare voer, sowel as die kudde se DM-behoeftes, vir die denkbeeldige plaas aangedui. Die berekeninghiervan word akkuraat deur die voer- en kuddevloeiprogram gedoen en neem onder andere die aanwas, vervanging, uitskot en voervermorsing in ag.

Die voerbenodighede en beskikbare voer in Grafiek 1 sinchroniseer baie mooi, wat ’n teken daarvan is dat hierdie denkbeeldige plaas genoeg kos produseer om in die diere se behoeftes te voorsien. In die praktyk is dit uitdagend om voervloei so mooi te laat werk en daarom is die voorsiening van ’n goeie voerbank, byvoorbeeld in die vorm van hooi, noodsaaklik. Die beskikbare voer in Grafiek 1 kan binne perke aangepas word om die voervoorsiening so na as moontlik aan die behoeftes te kry.
Die balansering kan met een of meer van verskeie metodes gedoen word.
- Eerstens, veral waar dit duidelik is dat die totale voervoorsiening onvoldoende is, moet die aantal diere op die plaas verminder word, of daar moet ekstra kos bekom word. Dektyd kan ook aangepas word om by die voervoorsiening te pas.
- Tweedens kan die kombinasie van tipe voerbronne na gelang van die behoefte verander word. Voergewasse is inherent seisoenaal en deur van verskillende spesies en kultivars gebruik te maak, kan die voorsiening van ruvoer deur die jaar versprei word.
- In die derde plek kan die persentasie toekenning per maand per gewas verstel word om meer of minder voer in spesifieke maande te voorsien. Soms kan die oppervlaktes per gewas ook gebruik word om die opbrengs per maand te beïnvloed. Die oppervlakte van die beskikbare veldweiding is meestal vas, maar kan ook verander, byvoorbeeld in die geval van huur of verhuring.
Benewens bogenoemde metodes kan klein verstellings in die DM-inhoud van voerbronne aangebring word, maar dit is beperk en het ’n geringe uitwerking op die opbrengs. Net so kan die DM-opbrengs per hektaar ook verstel word, maar ook net binne perke volgens wat in die wetenskap en praktyk geleer is.
Dit is belangrik om Tabel 4 reg te verstaan. Die maandelikse persentasie toekennings is tot ’n mate ’n aanduiding van die gewas se natuurlike produksiekurwe, maar dui eintlik die verbruik of stadium van aanwending van die voer aan. Byvoorbeeld, in Tabel 4 word 45% van die jaarlikse produksie van oulandsgras vanaf Maart tot Junie aangewend. Dit verteenwoordig egter nie die gewas se groeikurwe nie. Kontantgewas-oesreste is net vir ’n kort vensterperiode van die jaar vir beweiding beskikbaar. Dit kan egter gebaal en geberg word en elders in die voervloei aangewend word.
In Tabel 4 word meganisasie so ver moontlik beperk en word daar voorkeur gegee aan benutting deur beweiding. Van die oulandsgras en/of Smutsvingergras kan wel opgeberg word en later teruggevoer word volgens behoefte. Die spesifieke omstandighede van seisoen tot seisoen en van plaas tot plaas sal dit bepaal. Byvoorbeeld, oulandsgras wat vanaf Mei tot Junie aangewend word, sal natuurlik nie “bewei” kan word nie, maar sal afkomstig wees vanaf opgebergde voer, soos hooi, wat vroeër in die seisoen gemaak is.


Samevatting
Die 50/50-wisselboustelsel kan ’n werkbare alternatief vir kontantgewasproduksie bied, hetsy deur die inkoop van speenkalwers of deur die gebruik van eie aanteel indien die boerdery reeds oor ’n gevestigde vleisbeeskudde beskik. Die voer- en kuddevloei werk, maar sal deur elke plaas se spesifieke omstandighede bepaal word.
Hierdie artikel het eerste verskyn in die Mei 2026-uitgawe van SA Graan/Grain.






