Sedert ek aan die begin van 2019 by NWK aangesluit het, het hulle sterk sin vir korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid en betrokkenheid my opgeval en beïndruk. NWK skroom nie om behoeftige gemeenskappe waarin hulle sake doen – swart of wit – geldelik te ondersteun nie.
Die maatskappy is passievol oor sake wat ons produsente en hul bedrywighede raak. Daarom het NWK se Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie onder andere R15 000 bygedra vir die verfilming van die kortrolprent, Plaashuis.
Plaashuis is sowat 14 minute lank en ’n ware verhaal van twee vroue van Ficksburg, wat ’n plaashuis ná ’n plaasaanval opruim en skoonmaak. Die kyker gaan saam met hulle deur elke vertrek en kan maar net raai aan watter wreedhede en marteling die slagoffers van dié aanval onderwerp is. Dit is deur Dian Weys vervaardig en op agt rolprentfeeste regoor die wêreld vertoon. Die internasionale gehoor neem dus uiteindelik kennis van dié kwessie. Dit is sedert Oktober 2022 op YouTube beskikbaar vir almal om te sien.
As oudmisdaadjoernalis wat op tonele van gruwelike plaasaanvalle en -moorde in Mpumalanga was en daaroor verslag gedoen het, kan ek getuig dat Plaashuis ’n pynlike akkurate weerspieëling van hierdie tonele is.
Nie ek of Johan Bezuidenhout, groepbestuurder van Korporatiewe Bemarking en Kommunikasie, het besef dat die rolprent só grafies sou wees nie. Omdat ’n mens nie seker kan wees dat kinders nie toegang tot Facebook het nie en uit respek vir NWK-klante wat self al die slagoffers van wrede plaasaanvalle was, het ek besluit om nie ’n skakel na die rolprent op ons sosialemediaplatforms te plaas nie.
Op Woensdag, 23 November, het generaal-majoor Norman Sekhukhune, hoof van die polisie se misdaadnavorsing en statistieke, die land se misdaadstatistiek van 1 Julie tot 30 September 2022 bekendgemaak. In hierdie drie maande is daar meer as 7 000 moorde gepleeg. Dit is ’n styging van 13,6% in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar. Van hierdie 7 000, is 93 op landbougrond vermoor. Hy meld dat dit gevalle van huishoudelike geweld insluit. Hoeveel van hulle plaasaanvalle was met die motief om te roof, word nie deur die polisie geopenbaar nie.
Daar is al baie gedebatteer oor of plaasaanvalle polities gedrewe is, al dan nie. Ja, hierdie wreedheid sien ons ook in moorde in die stad en townships. Daar is egter faktore wat plaasaanvalle en -moorde van dié in dorpe en stede onderskei, wat geen politikus en sekuriteitskenner kan ontken nie:
- Die veraf ligging van plase gee aanvallers meer tyd om hul slagoffers te martel. Dit neem langer om hulp te ontbied en ook langer vir hulp om op te daag.
- Die meerderheid van plaasaanvalle word vooraf beplan. Produsente se roetines word dopgehou en aanvallers slaan toe wanneer hulle wéét die slagoffers op hul kwesbaarste is.
- Indien ’n produsent vermoor word en sy vrou en/of kinders nie bereid is om terug te keer na die plaas nie, word ’n hele plaas en/of bedryf dikwels uit produksie gesit. Die ekonomiese impak van hierdie misdaad is dus verreikend.
Dis die begin van ’n nuwe jaar. ’n Jaar waarin daar ongetwyfeld weer plaasaanvalle gaan plaasvind. Hoeveel, sal net die tyd leer. Of die polisie dit ooit as ’n prioriteitsmisdaad gaan verklaar, is nog méér van ’n raaisel.
Ek laat dit aan die leser oor om te besluit of hy/sy Plaashuis wil kyk. Persoonlik voel ek trots dat ek vir ’n maatskappy werk wat gehelp het om só ’n gewigtige saak onder buitelanders se aandag te bring.
Ek bid vir elke produsent en sy gesin se veiligheid op hulle plase in 2023. Dit kan nie lekker wees om kos vir die land se mense te produseer terwyl jy heeltyd oor jou skouer moet loer nie.