NWK se nuwe groephoof- uitvoerende beampte wil NWK se klante van die jongste tegnologies innoverende boerdery-oplossings voorsien, terwyl hy die maatskappy se ryk kultuur en erfenis van 115 jaar bewaar.
Pieter Kleingeld (49) het op 11 November amptelik die leisels by Theo Rabe oorgeneem. Theo het besluit om die tuig neer te lê om meer op sy boerdery te fokus. Hy dien egter wel nog in ’n raadgewende kapasiteit as uitvoerende beampte van projekte by NWK.
Pieter was vir sewe jaar werksaam as groephoof- finansiële beampte van NWK. Hierdie amp word nou deur Alfred White beklee.
Hy word groot met NWK
Pieter het reeds op 13-jarige ouderdom geweet dat hy eendag ’n sakeman wou wees. “Die dinamika, opwinding en die feit dat dit veranderlik is. Dis nooit dieselfde nie en dit maak dit uitdagend,” verduidelik hy sy belangstelling in die sakewêreld.
Nadat hy in 1993 aan Hoërskool Lichtenburg gematrikuleer het, het hy vanaf 1994 tot 1997 sy klerkskap by PwC voltooi.
Sy pa het 13 jaar lank by NWK se handelsafdeling gewerk, waar hy spilpunte ontwerp en geïnstalleer het. Pieter het dus as’t ware met NWK grootgeword en ook tydens sy klerkskap by PwC vir ses maande op ’n keer hier gewerk.
Hy het vanaf 1999 tot 2007 by PwC in Johannesburg gewerk.
Met ’n brandende passie vir boerdery, het Pieter ook vanaf 2008 tot 2013 voltyds geboer. “Ek het konsultasiewerk gedoen en saam met die boerdery bykans tien jaar lank rekenaarwetenskap en rekenaarouditeurswese by Wits aangebied,” vertel hy.
Pieter wou in ’n korporatiewe omgewing en groter besigheidsopset werk, en het in 2012 by Senwes as senior finansiële en sake-analis aangesluit. Die daaropvolgende jaar is hy tot groephoof van hul risiko-afdeling bevorder.
Sy langtermynplan was egter om terug te keer na Lichtenburg en spesifiek NWK. “As jy eers die water gedrink het,” begin hy om dié besluit te verduidelik, en voeg by dat almal by NWK as een groot familie funksioneer. “Ek hoort hier.”
Op 1 September 2015 is sy droom uiteindelik verwesenlik en kon hy inval as groepbestuurder van NWK se interne ouditdepartement (vandag bekend as NWK Gerusstellingsdienste). Twee jaar later is hy tot groephoof- finansiële beampte bevorder.
Dit is vir hom ’n voorreg om te kan terugploeg in die gemeenskap waarin hy grootgeword het. “Jy spandeer die grootste deel van jou dag by die werk, so dit moet lekker wees. Hoewel NWK ’n gemaklike maatskappy is om by te werk, bly ons dinamies in alles wat ons aanpak.”
’n Verbeterde ervaring vir klante
Pieter het reeds as groephoof- finansiële beampte ’n sleutelrol gespeel in die verskuiwing van NWK se destydse landboubestuursdienstedepartement se fokus na tegnologiese vooruitgang. Die naam is verander na AgTech@NWK en hommeltuie vorm vandag ’n groot deel van dié departement se sakeplan.
Hy het ook in die vernuwing van NWK Online – NWK se slimkoptoep vir landbou – ’n deurslaggewende rol gespeel. As produsent kon hy sinvolle bydraes lewer tot die ontwikkeling van die plaasbestuurfunksie.
Hy is ’n groot drywer van verandering, maar hy respekteer NWK se erfenis. “Ons boere het reeds verander en ons moet bybly. Suid-Afrikaanse landbouers oor die algemeen en spesifiek hier in Noordwes is baie goed met klimaatsrisikobestuur. Veral jongboere gryp nuwe tegnologie aan en NWK moet op die voorgrond hiervan bly.”
Die maatskappy is reeds besig om ’n e-handelplatform te implementeer. Hoewel dit ten doel het om NWK se bestaande klante te prioritiseer en beter te dien deur self by hulle af te lewer, gaan dit die grense van NWK se bedieningsgebied verskuif deurdat klante van regoor die land nou NWK se produkte sal kan bekom.
Daar is ook ’n groot dryf om die vulstasies in sy stal te vernuwe en prosesse se doeltreffendheid te verbeter.
Een van hierdie prosesse behels die implementering van ’n sogenaamde DT50-toestel waarmee klante nou brandstof op al hul rekeninge by NWK, asook kontant, kan ingooi. Hulle kaarte en lidnommers word geskandeer en die klant kan ’n handtekening op die toestel maak. Die betrokke bedrag word dadelik op die klant se rekeningstaat gelaai en dit is nie meer nodig vir hulle om die winkel binne te gaan vir hierdie tipe transaksie nie.
“Ons wil klante se gerief so ver moontlik verbeter en kry reeds goeie terugvoer,” sê Pieter.
Hy beskou nie tegnologiese vooruitgang as ’n bedreiging vir werksgeleenthede nie. “Inteendeel, dit kan méér werksgeleenthede skep as jy daarmee poog om doeltreffendheid te verbeter.”
Pieter is van mening dat klimaatsveranderingsregulasies ten opsigte van kweekhuisgasse ook ’n toenemende rol in Suid-Afrika gaan speel. “Ons word gedwing om ons boerderypraktyke anders te benader. Hommeltuie gaan ’n groter rol speel soos mense daarmee vertroud raak en doeltreffendheid verbeter.”
Groot vordering word gemaak in die ontwikkeling van selfaangedrewe masjiene, maar Pieter wil eerder nie ’n raaiskoot waag oor wanneer en in watter mate dit in Suid-Afrika se landboubedryf ingespan gaan word nie.
“Met hommeltuie het ons nog drie jaar gelede gesê dis nie prakties nie. Dit het egter teen ’n blitsige spoed verander en verander nog elke jaar. Robotika gaan ook elke jaar toenemend verander en dinge kan selfs vyf jaar van nou af baie anders lyk.”
Vervulling by die werksplek is belangrik
Pieter is dankbaar vir die oorgang wat Theo gehelp het om te bewerkstellig. “Ek en Theo werk reeds tien jaar baie goed saam. Ons dink baie dieselfde, het dieselfde uitkyk.” Hy beplan om sy huidige pos tot op 60-jarige ouderdom te beklee. “Solank ek ’n bydrae kan lewer, sal ek dit graag wil doen.”
Op ’n vraag oor watter nalatenskap Pieter wil vestig, antwoord hy dat hy NWK graag vorentoe wil neem en ’n positiewe bydrae wil lewer vir klante en die gemeenskap. Hy hoop ook dat sy kollegas by NWK hul tyd by die maatskappy sal geniet en vervulling in hulle dagtaak sal ervaar. “En world peace!” antwoord hy laggend.
Pieter is met Marzanne getroud en hulle het twee kinders, Sebastiaan (12) en Zanné (10). Wanneer hy nie sy veeleisende pos beklee nie, is Pieter te vind op sy plaas tussen Coligny en Ventersdorp, waar hy met Bonsmaras, mielies en sonneblom boer. “Ek probeer ook om weer te begin gholf speel,” glimlag hy.