Gert was in Laerskool Mareetsane en het aan Hoërskool Lichtenburg gematrikuleer voordat hy bemarking by die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus gestudeer het. Hy was by die universiteit se rugby-instituut betrokke en het dit met ’n kwalifikasie in bemarking gekombineer – ’n veld wat hy glo in enige bedryf handig te pas kom.
By Mareetsane, sowat 3 km ná die spoorlyn, kronkel ’n sanderige pad na regs. Kwalik skaapwêreld dié. ’n Entjie verder met dié pad vind jy egter ’n indrukwekkende Ile de France-stoet en ’n netjiese opstal. Dit behoort aan die 33-jarige Gert van der Linde, wat as SA Stamboek se kleinvee-streekwenner in Noordwes aangewys is en boonop dubbele goue status verwerf het.
“Nee wat, dis sommer ’n troosprys,” lag Gert beskeie toe NWK Arena hom pols vir ’n onderhoud oor sy prestasie. Dié toekennings is virtueel aangekondig en die nasionale wenners vir 2020/2021 sal na verwagting in April vanjaar jaar by SA Stamboek se Elite-gala aangewys word.
Net die top tien telers in die land, waaronder Gert, het dubbele goud ontvang en die nasionale wenner gaan uit hulle gekies word. “Nee, ek glo darem nie dit sal gebeur nie,” antwoord Gert op die vraag oor hoe hy voel oor sy kans om ’n nasionale titel in te palm.
Waarom Ile de France?
“Buiten dat dit vir jou finansieel die moeite werd moet wees en by jou boerdery-omstandighede moet inpas, moet ’n ou maar ’n liefde ook hê daarvoor. Dit wat jy sien, moet vir jou aanneemlik wees. As hulle vir jou mooi is, gaan jy meer aandag en tyd aan hulle spandeer – dan gaan hulle outomaties beter presteer. Jy moet hou van die diere waarmee jy boer.”
Gert vertel dat dié diere sy gunsteling ras is. Vir hom was die trekpleister hulle stewige bouvorm, hoë gehalte vleis en oulike “bulhond-gesigte”. “Die Ile de France is ’n vleisskaap met wol. Hulle is gewild vir kruistelings. Baie produsente plaas dié ras saam met Merino’s. Jy kan dus nie die wol afskeep nie.”
Hy voeg by dat nóg ’n voordeel van hierdie veeldoelige ras is dat hulle geneig is om tweelinge te lewer.
“Daar is ’n groot telersbasis in Noordwes en die Overvaal Ile de France-klub op Ottosdal hou elke jaar ’n produksieveiling. Ons is boonop naby aan Botswana, waar daar ’n groot mark vir dié ras is.”
Nie tipiese skaapwêreld nie
Gert noem dat almal in dié omgewing eintlik net skape vir die pot aanhou. “Saaiery eindig hier (by Mareetsane) en dan word dit beeswêreld,” vertel hy. In die voorafgaande naweek is daar 60 mm reën by Mareetsane gemeet. “Skape hou nie van reën nie en is geneig tot inwendige parasiete, hartwater en haarwurm. Gelukkig is dit sanderige wêreld wat vinnig dreineer.”
Diefstal is nog ’n bedreiging waarmee hy te kampe het. Hy meen dat goeie verhoudings met plaaswerkers belangrik is om dit hok te slaan.
Volgens Gert is daar nie net een sleutelfaktor vir sukses nie. “Hoewel goeie genetika van kardinale belang is, moet jy dit met goeie bestuur en voeding ontsluit,” verduidelik hy.
Statistieke doen die praatwerk
Alle Ile de France-telers behoort aan ’n genootskap en is dan outomaties lede van SA Stamboek. Laasgenoemde is verantwoordelik vir rekordhouding, teelwaardeberekening, data-insameling en rekordhouding. Alle telers se data word in berekening gebring en ’n geoutomatiseerde stelsel ken dan aan hulle punte toe.
SA Stamboek oorweeg die volgende faktore wanneer hulle wenners aanwys:
- Korrektheid en tydige aantekening van geboortes en hulle gewigte.
- Reproduksiebestuur van die kudde teenoor die ras.
- Genetiese vlak van die manlike sowel as die vroulike diere in die kudde teenoor die ras.
Net 30% van al die deelnemers aan die produksie-aantekening kry toekennings. As jy dus ’n brons toekenning ontvang, tel jy onder 70% tot 80% van die toptelers. Diegene met silwer toekennings tel onder die top 80% tot 90% en dié met dubbele goud, soos Gert, is onder die top tien telers in die land.
“Die toekenning het beslis goeie bemarkingswaarde. Ek het reeds navrae van so ver as Oudtshoorn vir ramme ontvang.”
Uitdagings en toekomsplanne
Gert noem dat, hoewel uitvoere na Botswana gekniehalter is weens eerstens bek-en-klouseer en toe COVID-19, die skaapbedryf geweldig gegroei het danksy skeepsuitvoere. “Ons het daarom nie die uitwerking weens die mark wat ons aanvanklik in Botswana verloor het, so erg gevoel nie.”
Die voortslepende droogte, wat eers in 2019 gebreek is, het Gert genoodsaak om van sy onproduktiewe en ouer diere ontslae te raak. Hy kon ook heelwat spaar aan die vervoerkoste vir voer, aangesien daar heelwat grondboontjies in dié omgewing verbou word. “’n Skaap bly produktief met relatiewe lae onderhoud, so dit bly lonend om ’n ooi met haar lammers in die kraal te hou en te voer,” verduidelik hy.
Gert is tans ’n verkoopsverteenwoordiger vir Bayer, maar hoop om eendag voltyds te kan boer en dan sy boerdery-onderneming uit te brei. “Daar word wonderlike tegnologiese vooruitgang gemaak en ek ondersoek moontlikhede om te meganiseer,” voeg hy by.
Hy is die voorsitter van die Overvaal Ile de France-klub en ’n lid van Agri Mareetsane, en moedig ander jong produsente aan om betrokke te raak by georganiseerde landbou. “Dit is waar jy in voeling bly met sake wat betrekking het op landbou, soos hoe belangrike onderhandelings met die regering vorder. Individue met ondervinding in ander velde deel dit ook hier en só brei ons mekaar se kennis uit.”
Toe NWK Arena Gert pols oor sy stokperdjies, vertel hy glimlaggend dat dit maar sy skape is. “Dit is waarom hy so suksesvol is met sy boerdery,” beaam sy meisie, Susan Kemp.