In uitdagende jare is dit van kardinale belang dat produsente met
hul bekalkingsprogram moet volhou om goeie wortelgesondheid, voldoende voedingstofbeskikbaarheid en optimale grondmikrobio-
logie te verseker. Bekalking verg volgehoue dissipline en deeglike beplanning. In strawwe jare verg dit beter finansiële beplanning en strenger kostebestuur.
BEKALKING is tydens uitdagende produksiejare dikwels die eerste inset wat weggelaat word. Ongelukkig is dit juis dán wanneer grondgesondheid die grootste skade ly – skade wat dikwels eers jare later in opbrengsverliese sigbaar raak.
Vereistes vir voldoende plantvoeding
Plante wat goed gevoed is, groei behoorlik en bereik optimale produksie. Voldoende plantvoeding is onder andere afhanklik van ideale grond-pH,wortelgesondheid en ‘n gebalanseerde mikrobiologiese grondlewe.
In droër jare is dit in wese nóg belangriker, omdat droër grondtoestande die opname van plantvoedingstowwe bemoeilik en die plant dus tekorte kan toon. Die optimale bestuur van grond se pH is dan uiters belangrik.
GROND-PH
Die suurheid of alkaliniteit van grond het ‘n groot invloed op die opname van plantvoedingstowwe. Die ideale pH(KCl)-reeks vir die meeste akkerbougewasse is tussen 5,5 tot 6,5 en dié van mielies is 5,3, wat ‘n effens suur omgewing is.
As die grond té suur is, kan sommige mikro-elemente soos aluminium (Al3+) en mangaan (Mn2+ en Mn3+) in toksiese hoeveelhede opgeneem word, terwyl dit ander elemente soos yster (Fe2+ en Fe3+) bevoordeel.
Die makro-elemente [stikstof (N), fosfor (P), kalium (K), kalsium (Ca), magnesium (Mg) en swael (S) word meestal optimaal in die effense suur omgewing (pH(KCL) 5,5 tot 6,5) opgeneem. Tabel 1 toon die pH se uitwerking op die opneembaarheid van die onderskeie plantvoedingstowwe.

Bronne: Barrow & Hartemink (2023)/Penn & Camberato (2019).
WORTELONTWIKKELING
‘n Gesonde, goed ontwikkelde wortelstelsel is noodsaaklik vir die doeltreffende opname van plantvoedingstowwe en water. Die grond-pH beïnvloed wortelontwikkeling direk deurdat ‘n ongunstige pH tot die toksiese opname van sekere elemente lei en die beskikbaarheid van plantvoedingstowwe in die grondoplossing negatief beïnvloed. Sien Tabel 2.
‘n Ongebalanseerde pH lei verder tot wortelskade, wat die opname van noodsaaklike elemente en water beperk en plantontwikkeling benadeel.

Bronne: Marschner (2012)/Penn & Camberato (2019)/Barrow & Hartemink (2023).
WORTELGESONDHEID
Gesonde plantwortels skei verskeie organiese en anorganiese verbindings en ione af. Hierdie afskeidings is inherent deel van verskeie van die meganismes waardeur plantwortels plantvoedingstowwe opneem.
Gesonde wortels skei organiese sure af, wat fosfaat mobiliseer en deur uitruiling plantvoeding-
stowwe opneem. Voorts het gesonde wortels ‘n digte klos wortelhare waarmee plantvoeding-
stowwe opgeneem word. Gesonde wortels skei ook groot hoeveelhede suikers af, wat as voedingsbron vir voordelige mikrobes in die risosfeer dien – Tabel 3.

Bron: Marschner (2012)/Barrow & Hartemink (2023)/Penn & Camberato (2019).
GRONDMIKROBIOLOGIE
Grond-pH het ‘n direkte invloed op mikrobiologiese aktiwiteit. Mikrobes skei verskeie ensieme af, wat ‘n belangrike rol in metaboliese prosesse speel, veral in die mineralisering van organiese verbindings (soos oesreste) na basiese en opneembare plantvoedingstowwe.
In ‘n neutrale pH-omgewing (6 tot 7) is die hoogste diversiteit en funksionaliteit van mikroörga-
nismes optimaal, terwyl baie suur of alkaliese toestande die metaboliese prosesse en simbiose beperk. Verskuiwings van grond-pH het prominente populasieverskuiwings van mikrobes tot gevolg. (Tabel 4)
In suur grond word die mikrobe-populasie deur swamme gedomineer (waarvan verskeie patogenies vir plantwortels is), terwyl gronde met ‘n hoë pH deur bakterieë gedomineer word. Gesonde mikrobiologiese aktiwiteit is dus noodsaaklik vir voedingstofsiklusse en plantgesondheid.

Praktiese bestuurswenke
Wanneer grond-pH, wortelgesondheid en grondmikrobiologie nie optimaal funksioneer nie, kan voedingstofbestuur vinnig ‘n nagmerrie word. Die volgende praktyke kan help om die beskikbaarheid van plantvoedingstowwe te optimaliseer:
- Doen gereelde grondontledings: Neem grondmonsters om presies te weet watter voedingstowwe en spoorelemente in jou grond in té lae vlakke voorkom.
- Pasgemaakte bemesting: Dien presies die regte hoeveelheid kunsmis toe, gebaseer op jou grondontledings, om oor- of onderbemesting te voorkom.
- Bestuur grond-pH: Stel ‘n goed uitgewerkte bekalkingprogram op en bestuur die grond-pH altyd rondom optimale vlakke. Die versuringstempo van verskillende gewasse moet in ag geneem word in die program.
- Organiese materiaal: Voeg kompos of organiese materiaal by om die grond se waterinfiltrasietempo
te verhoog, mikrobiese lewe te stimuleer en voedingstofreserwes te verhoog.
Samevatting
Bekalking vorm die stille fondasie waarop volhoubare produksie rus. Wanneer produsente bekalking in moeilike jare uitstel, word die invloed nie onmiddellik gesien nie, maar die skade aan wortelgesondheid, voedingstofbeskikbaarheid en grondmikrobiologie bou op en manifesteer jare later in opbrengsverliese.
‘n Gedissiplineerde bekalkingsprogram is dus nie ‘n luukse nie, maar ‘n strategiese belegging in die grond se langtermynproduktiwiteit en die boerdery se volhoubaarheid.
Bronnelys
- Barrow NJ & Hartemink AE, 2023. The effects of pH on nutrient availability depend on both soils and plants. Plant and Soil
- Marschner H, 2012. Mineral nutrition of higher plants. Academic Press
- Penn CJ & Camberato JJ, 2019. A critical review on soil chemical processes that control how soil pH affects phosphorus availability to plants. (https://www.researchgate.net/publication/333695040_A_Critical_Review_on_Soil_Chemical_Processes_that_Control_How_Soil_pH_Affects_Phosphorus_Availability_to_Plants)
- ScienceDirect, 2025. Soil pH and microbiological activity. ScienceDirect Database







